Sunday, 9 December 2018

nagliedjie
Marlene van Niekerk


dank die wolke dank die newel
dank die aangeslaande damp
dank die stuifsel dank die sliert
die waas die mis
die hele woordeboek van snees
vir wat hule uitrig met die maan

ek kan op klare nagte
haar nie verdra as bal
die blou geboorteglas van lig
geblaas om elke ding
verhelder niks

maar by 'n lug van rag en gaas
begin haar verstaan

'n hoef 
in die gras

'n handskoen wit om die kosyn
van die noorde

en al die ander wolkewesens
wat haar baan haar gang haar boog vergruis
haar oog beknot
haar skelle rondteghong verdruis

soos nou hier bo my waar ek staan
'n reuse loerie van die lug
teer en grys en lewendig
'n ring van sterre om sy been
'n kuif wat styg en daal

o maan sing hy en ek sing saam
die winter kom jou hart 
van steen
jou dodelike alabaster
in reeds omhang met reën.


Saturday, 1 December 2018

die groen vinger van God
Martjie Bosman


die groen vinger van God beweeg
oor die kors van die bruin klont Aarde
druk 'n skeurdal in die vlak mere riviere
trek 'n bergreeks op uit die klei
teken fynbos ligweg rooistompie en heide
die bont byvreter teen die nuwe rivierwal
die grys renoster die lawwe bobbejaan goed
les bes die regoploper mens baie goed
die hand van God bou 'n muur
later ook 'n brug klouter mens daaroor
trap die blom skiet die bok brand die boom
die vinger van God skryf teen die muur


Wednesday, 22 August 2018

fisiologie-laboratorium
Pieter Odendaal


die tutor deel 'n mikroskoop
en 'n dwarssnit van 'n hartspier uit
ek skakel die ligbron aan
bring die beeld in fokus:

die selle lê soos leninge lovers langs mekaar
die kerne kyk stom die herldersiende lig in
die mitochondria is wurmrige konkavure
wat die hele storie aan die gang hou

ek weet dat daar nog van jou molekules
in die plasmas van my lyf lê
jou uitasems het in my opgelos
en beheer die suurkonsentrasie in my bloed

ek weet dat die bedrading in my kop
jou dye in stroombane neergelê het
dat jou hande bloot remote controls
vir die endorfien-rushes in my brein was

na ek die spiervesels mooi
uitgestip en als benoem het,
stap ek en my wit jas die sonlig in
sien ek die bome is chloroplastgroen

en met elke tree skilfer
my dooie selle af: die tekens
van ons chemiese rendezvous
val soos mikrosneeu om my heen


Monday, 23 April 2018

dit rammel sag
Antjie Krog


dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.
vanuit die binnevlerk van wolke veer
die donderweer al met die stil verhemeltes
van berge langs. 'n tiptol stip die mees

intieme plek aan in die esdoringboom —
die plek waar die stam die stilste boomwees hou.
o, roerloos wag die boom, die weerlig stroom
uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse

vel oopsnou na die geur van dragte vol
geloftes. in haar are bloei die rose.
haar laaste koelte damp vanuit haar oksels

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy
so karig, so alleen, of het sy so
gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie


Sunday, 22 April 2018

Winterslaap
Wilma Stockenström


Winterslaap is my naam, en waterblink
lê die dae op 'n streep in die son:
so mooi my verworwe rus, ek dink
'n glimlag het die aarde aangeraak.

Egalig haal die nagte asem
in leë kamers en leër strate;
herinnering vervaag in 'n wasem
van selfsug, spreiend uit die ruite.

Kokon is my naam. In ewewig
tussen toe en dan kan ek besin,
kan ek vooruit beplan in die lig
van 'n suiwer stilte wat ek stil aai.

Ek draai my om en strek die hand
uit in ruime eensaamheid en tas
net effe rusteloos na die wand
van ys en wol, vagdig om my.


Thursday, 8 March 2018

Dit is afstand doen
Wilma Stockenström


Om
soos 'n vlieënde mier vlerke in bruin rame
oënskynlik moeiteloos te laat vaar, veranderd
voort te kruip, ligter maar soveel kleiner,
onthef van ekstase en vir goed aards,
dit is afstand doen, dit is voortaan
gelyk loop en nooit meer opwaarts na lig,
verheerlikte heerlikheid van lig,
nooit meer te streef of selfs te soebat
om lig.


Wednesday, 7 March 2018

Man wat mal word
Peter Blum


Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr
dat al-lis beslote is en slags ék oop
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam

tort in die klier. War-om? Aluin 'n kwik haat
het hierdie verstrooide pynpuin in kontrole
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus en knook
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal

eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp —
en dit ís liefde: kán dus in die greep

van één drong woord kraal wat in alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!


Monday, 5 March 2018

Man wat doof word
Peter Blum


Hulle wil my nie kwes nie, maar ek kom agter
dat hulle harder praat terwille van my,
want sodra ek my rug draai, praat hulle sagter,
en my aandeel in die gesprek vergly

in 'n onbestemde ruising. Snags, by duister
wanneer klein geluide groei, laat ek my streel
deur water wat vérweg vloei, 'n kraan wat fluister
– en weet ek nie of ek dit my verbeel.

Vertroude stemme is nog helder en skoon
– maar miskien net omdat ek die gehoorde 
kan takseer volgens toonkleur, en met àl

my kennis vàn, gevoel vír, die persoon;
Omdat vertroudes kan klaarkom met min woode?
ook dààrom.
                   Later sal selfs dít wegval.


Wednesday, 14 February 2018

Heuningdae
Wilma Stockenström


Ja, die heuningdae. Ek onthou.
Uit die vol doek van die lug
drup die soet lig vanself, 
elke dag 'n gelykvol kom.

En die larwes van kinders op die werf,
'n kriewelende geskater onderaan die middag.
Aan donringboomdons, volkome verganklik,

hang 'n by.
Die by vlieg,
sy vlerke
die gehele lig.


Tuesday, 13 February 2018

Holberg
Naudé Kritzinger


Die oues sê die aarde is
'n kremetart en oud.
Die jare het haar uitgehol
dat net die bas en bietjie hout
'n korfstruktuur daar bou,
met ondergrondse steierwerke
tot waar die geeste draal.

Dit word vertel;
as jy jou laaste asem uit sou blaas
jy dun sal word:
jou hande op sal lig,
soos 'n stukkie strooi sal sak,
af met die kors se pype
tot in die warm hart.

Hulle sê, al het 'n oog dit nooit gesien nie,
'n boomsaad daar soos 'n eier broei
en op die dag as die dop oopkraak
alle tyd weer oor begin.


Monday, 12 February 2018

Namens die grondgeitjie
Erentia Bedeker

Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon?
(Job 38:19)


Met die leë gieter swaaiend
het jy geroep! 'n ster
het in jou tuin verskiet.

Dit het aand geword en môre
dit was ons laaste dag.
Jou koue vingers tussen myne,
grond nog onder jou naels.
Nou sterf sterretrosse snags
met sand in hulle oë.

Ek vier jou nuwe lewe
in die moer van supernovas,
waar sterre-embrio's
saam met jou herbore word
uit 'n heelal van atome.

Teen skemer sal ek vergeet
om die kraan toe te draai.
Die grondgeitjies sal jou roep
en swyend wag op 'n telegram
wat jou afwesigheid verduidelik.

Vanaand sal ek die aandster
teen my mond smoor
en die tuin alleen natlei.


Sunday, 11 February 2018

Biologieklas
Marthé Mc Loud


Kinderstemme tjirp-tjirp
soos die fles van skoolbank
tot skoolbank opgetel en
bekyk word.

Die kind se oë span styf. 
Sy ruk, laat van die bottel
met die aangeeslag.
Die klas lag.

Die klaskamer begin om haar
te dobber en dryf
soos die opgekrulde slang wegrol
van haar onderlyf.

Die reptiel se tong flits
in-uit: sjuut
dit is ons geheim net
ons geheim net ons


Saturday, 10 February 2018

Vakansiebrief
D. J Opperman


Voor my in 'n mispel kras
drie kraaie; my dae verdwyn
in stiltes soos kwartels in lang gras.

Vanoggend toe ek erdwurms soek, 
raak ek oor 'n fossiel verstrooid
soos oor 'n bladsy uit 'n muf dagboek.

'n Ou meid lê langs haar skerm, die wange
weggesak, haar oë reën en sand 
in holtes van 'n maalklip opgevang.

Die berg se donker lies, vars spore
van die likkewaan en kuttels van 'n bok
roer iets in my van lank tevore;

maar die tarentaal sit stom
op haar nes vol eiers — my hart broei
oor die stad: glas, sink, beton.


Friday, 9 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Maandag 18 Desember


oom jeff met tattoos op sy arms
het krismispresente gebring
van durban af waar hy bly

sy vrou is lankal dood
en sy kinders is groot
hy het sy eie huis met
'n goeie werk, sê ma
'n welder soos pa
en hy sal goed sorg

ma kap 'n bordjie in
op die pavement 
voor die huis
for sale


Thursday, 8 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Dinsdag 12 September


dit het vandag gereën daar is rysmiere
wat ek kan vang onder die straatlig
met ma se meelsif

ek sit hulle in 'n canfruit-bottel
waar hulle tjirr-tjirr teen die glas
andries vra wat maak ek
met 'n bottel vol en dit stink

ek sê dis vir pa vir visvang
by hartebeespoortdam
en andries sê maar...

toe onthou ek en
maak die bottel oop
'n paar vlieg op maar
meeste val net op die grond


Wednesday, 7 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Sondag 3 September


antie hester het 'n broek en
'n hemp en skoene gebring
van haar suster se kind wat
te klein is vir hom 

sy en ma sê dis hoog tyd dat ek
sondagskool toe gaan
die hemp is wit en die broek is te kort
en die skoene maak my seer

ma gee my twintig sent en
'n bybel met 'n foto in van pa
sonder 'n hemp met 'n vet baber
in sy hande by hartebeespoortdam

voor die kerk staan die dominee
met die blink kop en sy 
oë wat swart vir mense kyk
as hy hulle hande skud

in my sak is twee tiensente
dis 'n coke en vyf toffies en twee
games pinball by costa se kafee 
en ek draai om


Tuesday, 6 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Woensdag 19 Julie


ons word wakker
ek en henry in die donker
van ma wat hardloop en 
skree in die gang
in haar shorty pajamas
uit by die hek en
oor die straat

antie rosie en violet probeer om
pa te help, sy gesig is wit en
sy voete skop en iemand skree
waar's die dokter het jy gebel

die ambulans maak rooi ligte in
die huis en rooi gesigte in die straat
en hulle stoot pa
op 'n wit trollie uit

oom nel vat ma met sy kar maar 
hulle kom terug en ma sê
pa is weg sonder koebaai

ek mis skool en andries sê
daar was 'n puppet show
in die saal


Monday, 5 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Sondag 4 Junie


ek en ma en henry ry in
ma se blou mini en gaan
kuier weer vir pa in
die plek in johannesburg

hy moet 'n maand daar bly
want die myn het hom gestuuur
en henry sê as pa weer soos
laas wegloop fire hulle hom

daar's net mans, party sit op
stoele en praat en party loop
stil in die tuin in
wit pajamas met rooi strepe

pa het 'n mandljie en 'n
skinkbord uit rottang
met sy hande gemaak en hy
gee dit vir ma toe ons moet ry

ma sê pa is nou amper gesond
maar henry sê sy lieg, want oom
flip drink nog altyd en
hy was al drie keer daar


Sunday, 4 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Woensdag 5 April


Willem sê ek moet kom kyk
op die koelieskool se veld
staan 'n groot sirkustent met
leeus en olifante en 'n
tiekieclown en as ons help
kan ons verniet gaan kyk

die tent is wit en rooi en geel
ons klim deur die draad en willem
praat met die man met die pens
en sê ons wil help en verniet kyk
maar hy jaag ons voetsek fokkof weg

ons hol verby 'n caravan
met 'n oop deur
willem stop en wys
ek sien rooi lippe en ronde tieties
groter as willem se sussie s'n
agter die garage


Saturday, 3 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Donderdag 5 Januarie


pa kap 'n bordjie in 
op die pavement
voor die huis
for sale

antie rosie van oorkant
bel ma by die werk
jy moet kom, piet verkoop jou huis

pa sê hy koop 'n plaas met perde
ma sê jy's mal
welders op die myn
koop nie plase en perde nie

pa sê fokkof ek weet
toe kom die dokter met 'n
swart tas in 'n swart ford

oom swanepoel bring die
dominee met blink kop
hy bid vir pa se drink en sy suiker

fokkof skree pa los my uit
ma huil en antie rosie gee vir my
rooi kool-aid en blinkpapierbiscuits
toe almal loop


Friday, 2 February 2018

Ma se vingers
Anton Döckel


My ma op tagtig
laat my haar hande streel
— die vel is nou net handskoen vir die been —
en die lyne op haar palm
se fortuin aanstons volbring.

Die ringvingers wil nie meer reguit nie
bly gehurk en knielend voor
die noodlotslyn.
As ek in 'n ongeluk moet sterf, spot Ma,
sal jy my aan my vingers ken.

Ek onthou hulle rats, behendig

aan't stiggies inlê en sokkies stop,

perskes bottel om winter in te kleur
toe sy nog 'n koppie 
kon vashou aan sy oor.

Steurend in die oomblik
kom 'n verdraaide strofe lag:
met die vervormde litte
is nooit weer mooi te skryf nie
met die onvervormde wek.
Vra Ma: Van watter Louws was hy?


Thursday, 1 February 2018

Kriptomnesie
Johann de Lange


I
Het ek jou meteens ont-
hou, of uitgedink?
Is jy die wakker vont
self, of net 'n krink
in my natuur
wat, hoe stipter ek staar,
hoe dieper ek tuur
in 'n oogwink
onkeerbaar weg
sal slink, 'n skyngeveg
met die muse
of skikgodin? Medusa
dalk? Nee: wat ek so vas
gehad het, so glas-
helder, polter blitsig weg.

II
: en dan blitsnel
die wit boom 
teen die swart lug.

Sy wit skadu
ets die nagvlug
van 'n uil,

laat knal
die skielike swael
van 'n geel bokoog.


Wednesday, 31 January 2018

moksha/vrywording
Angie Gallagher


die rammelende cumulus wat om my bene brom
is hoek-ore en skrewe-oë en snorbaarde, die wolkalbas
ook 'n lotus — my kat is 'n volslae boeddhis:

'n toegewyde hedonis wat krap om krap's omwil
domme graffito, dwase outeur; in die huisraad is
epitawe gegrif: erfstukke is mot en roet s'n

nog meer: 'n opperste opportunis — geen oppervlak
is heilig nie, my kat verpoos volstrek waar sy wil rus
om gesprei en mantelrig gedrapeer oor nirvana te mediteer


Wednesday, 3 January 2018

Laaste lied vir Orkenise
Erentia Bedeker


Sing vir my jy wat die son in jou keel dra
jy met die poorte en trompette
sing vir my as die nag knarsend onder jou voete breek
jy wat slagoffers lok met vernikkelde harte.
Sing vir my jy wat die uiteindes en
uiteindelikhede van man en vrou ken
sing van die swerwer wat sy hart op die stadsplein los
van die ploegman wat syne by die mark verpand.
Sing vir my as die hekke langsaam toegaan
en ek die maan se swart tjalie omhang
jou naam 'n sinnaberstreep op my huid.
Sing vir my sodat ek weer die vallei van kameeldorings kan vind
waar ape grafte grawe en waghou teen roofdiere
daar waar ek teen skemer jou stem
met die laaste skep grond kan
toegooi.


Tuesday, 2 January 2018

Hart van Orkenise
Erentia Bedeker

Na aanleiding van "Oneirocriticism" deur Guillaume Apollinaire, met apologie


Die kole van die nag was so naby
ek was bang vir brand.
Die wurgvy het die prieel berank, 'n
swanger maan aan sy tak gehaak.
Die witwanguil se keel het ontvlam en
die wêreld het gebloei soos 'n maartlelie.

Ek was onkundig oor die uiteindes
van 'n man, uiteindes
van 'n vrou, uiteindelikhede
en uiterstes van ledemate
agter die fantoompyne
van begeerte.

Gedagteloos onder 'n afdak
sluk ek die geelbruin kuddes
van die najaar en vryf
jou hersenskim
uit my oë.

Orkenise verskyn op die einder.
Gestaag galop ons die stad tegemoet —
die gedruis in die poorte, die vlag
die trompet in die toring —
traag om die vallei waar kameeldorings
fluit, te verlaat.

Maar die lied van die saailande was manjifiek.