Showing posts with label Marlene van Niekerk. Show all posts
Showing posts with label Marlene van Niekerk. Show all posts

Thursday, 3 January 2019

nagpsalm
Marlene van Niekerk


dis 'n ou klavier wat die nag verklaar
dis 'n klawerbord
by die voete van dinge

by die voete van lamppale
by die vrank voete van die olyfbome
dis metronome
by die soeter voete van die suurlemoenboord
in die vlei se voet van water
onder om die riete
om die voete van die lelies
dis 'n ou klavier
miskien is dit 'n weefstoel
dis die weefstoel se klikkende pedale
of smidsgetinkel
onder in die molm van die nag
of 'n naaimasjien met 'n klopvoet
wat zik-zik binne-in die kuil
dis skelm jazz op klepels
dis om die voet van elke halm
minus melodie
sonder kadans
dis 'n ou klavier
dis 'n ou klavier
dis 'n spikkeling onder die voetsool
dit galm
om die voet van die laventel
dis voetlepels
dis voetmusiek
van kikkers en van krieke
dis hulle wat so dingel wat so dienk
aanhoudend in die elm van die gras
hierby hum ek
hierby  strum ek
hierby swingel ek
my nagpsalm.

Sunday, 9 December 2018

nagliedjie
Marlene van Niekerk


dank die wolke dank die newel
dank die aangeslaande damp
dank die stuifsel dank die sliert
die waas die mis
die hele woordeboek van snees
vir wat hule uitrig met die maan

ek kan op klare nagte
haar nie verdra as bal
die blou geboorteglas van lig
geblaas om elke ding
verhelder niks

maar by 'n lug van rag en gaas
begin haar verstaan

'n hoef 
in die gras

'n handskoen wit om die kosyn
van die noorde

en al die ander wolkewesens
wat haar baan haar gang haar boog vergruis
haar oog beknot
haar skelle rondteghong verdruis

soos nou hier bo my waar ek staan
'n reuse loerie van die lug
teer en grys en lewendig
'n ring van sterre om sy been
'n kuif wat styg en daal

o maan sing hy en ek sing saam
die winter kom jou hart 
van steen
jou dodelike alabaster
in reeds omhang met reën.


Wednesday, 30 November 2016

ek berei 'n slaai voor die oë van my vader
Marlene van Niekerk


ek berei 'n slaai voor die oë van my vader watse blare
vra hy watse gras watse klein groen kiewiete
krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade
hy blaai deur die jare 'n wit servet om sy nek
en tree met adel kuite deur die toppe van wilde mosterd
waarin die blou kieriekoppe van tarentale roer
en die someravond bruin en soet op die stellasie sit
en die horlosiegras afdraai in die stof in hierdie kuil
van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande
sit die klein goue blaarvouer in die geul van die palmiet
te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes
maak my soet en hoor my lied laat hierdie groen kos,
geseënd wees aan ons gees my pa eet blare
my pa eet gras en praat in tale