Wednesday, 30 November 2016

ek berei 'n slaai voor die oë van my vader
Marlene van Niekerk


ek berei 'n slaai voor die oë van my vader watse blare
vra hy watse gras watse klein groen kiewiete
krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade
hy blaai deur die jare 'n wit servet om sy nek
en tree met adel kuite deur die toppe van wilde mosterd
waarin die blou kieriekoppe van tarentale roer
en die someravond bruin en soet op die stellasie sit
en die horlosiegras afdraai in die stof in hierdie kuil
van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande
sit die klein goue blaarvouer in die geul van die palmiet
te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes
maak my soet en hoor my lied laat hierdie groen kos,
geseënd wees aan ons gees my pa eet blare
my pa eet gras en praat in tale

Tuesday, 29 November 2016

metamorfose van die dorpstommerik
Linda Roos


P-P-Prometheus hang gekruisig aan sy vingertoppe
met derms teen die rots geverf en oë van 'n lam

die klipswaar vloeke van die dorpenaars
wat so sekuur ou rowe tref
het hom oor die ravynrand eindelik gedwing, 
met dik en stamelende tong en hande
wat afwerend wuif aan die dun lem van 'n lys
tot rus laat ruk

nog uit die kring van kranse swiep
hul oog en tong met kloue uitgestrek
tot dié dag dat die wolke skeur
en elke bloedkol vere kry en vlerk
die dun geraamte van die kuit
groei tot geskubde poot
gesperde oog kry dubbellid
die swaar tong punt 'n adellike boog
en krys uit nuwe keel 'n nuwe naam
wat op sy voorkop
al die tyd geskrywe staan

toe vlieg hy op in die arms van die son

Monday, 28 November 2016

Uitsig op die kade
Elisabeth Eybers


Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.

Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.

Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.

Sunday, 27 November 2016

Met die onsekerheid
George H. Weideman


Dán word jy die troebel beeld
wat huiwer op die horison:
die dadelboom en leiblou dam
wat soms 'n vae koelte bring
en dan weer: groen en eg, maar vér, wyd —
ver oor die rante hang die damperige kring
van droom en dynserige werklikheid.

Henkries, Desember 1965

Saturday, 26 November 2016

Uit: mix tape
Bibi Slippers


1. Klou

                    Porcupine-ology. Antler-ology. Car-ology. Bus-ology. Train-ology. Plane-ology.
               Mama-ology. Papa-ology. You-ology. Me-ology. Love-ology. Kiss-ology. Stay-ology.
                    Please-ology. Let's study class, let's study class. Sit down. —Regina Spektor


ek wil my hande om
'n kaktus of turksvy
vou 'n anemoon in my
mond hou ek wil jou
ek wil jou

ek wil in 'n doringboom
slaap met 'n ystervark
in my arms ek wil leer
hoe om jou hoe om jou

ek wil 'n professor word
in die wetenschap van stekels
ek wil jou doringappel
doringpeer stadig maar
sever afstomp seekastaiing

stekelrog dennenbos
ek wil jou ek wil jou
bot hê en onskerp
armadillo-akkedis

meidoding lavanaald
as dit onmoontlik is
sal ek wil sag raak
myself spons maak

sodat ek aan jou
aan jou kan klou
sonder gevaar
van 'n steekwond
deur die long

Uit: Nou en dan

XIII Arachne se leegte
T. T Cloete


Die spinnekop weef haar helder dun ligdraad
oor die leegte en in teen die donker wind.
Sy heg haar vastrapplek déúr die hiaat
in ʼn wyskundige reëlmatige weefsel en sy bind
haar patroon óm die openinge wat sy laat.


Friday, 25 November 2016

Die mens is metafoor en meer
D. J. Opperman


Ek is traktaatjie
goedkoop preek
vir slordige predikant

exempel, emblemata
altyd verwysing na

die geval en Anderkant

ek is geelwortel
'n jaar lank
oorgeslaan op die land

metafoor
klaar gekoppel, die 'soos'
van die vergelyking
reeds met die bymekaarkom
in mekaar gegly

die ekstase tot kriptiek

alles wat jy raak
word beeld, simbool:
skroewedraaier, geld
word wisselkoers
die mirakel 
van Armstrong op die maan: mistiek

van 'n Goddelike Komiek.

Thursday, 24 November 2016

daar waar jy woon, is baie lig
Petra Müller


nie in die stilte
met middernag
of by laaste gelui
sal ek jou soek nie

swael wat in die hoë koepel swenk

maar net voordat dit stil word
in die keerweer van die klepels
en voordat die spinet gaan staan

fladderende hart in 'n woud van klip
jy ruis in die triforium
en jou liggaampie snoer 'n ewigheid
tot jy die sonstroom tref

daar waar jy woon, is baie lig

Wednesday, 23 November 2016

Die valkenier
Ernst van Heerden


Onder die dagboog
het die edelvalk met sy gehuikte oë
'n trotse onderdanigheid geleer;

as hy sy keiserlike skedel rukkerig draai,
word uit die moederlug
deur die vrye vlerkvolk
van bloedvink, mossie, kerkkraai
reeds die gefnuikte se ver verraad vermoed.

Al word 'n vleisklos bekoorlik rondgeswaai,
sy perke bly steeds uitgestippel
en hy meegéwend met 'n nawelstring verbind;
die vryheid loop net treë ver —
tot in die eerste wipsprong
waar hy die enge ruimte mag verken.

Al is die lokaas mals en rooi,
al is die klowe groen bebos,
al is sy wêreld ryk betwetter,
die onderhorige hoor net 'n enkel stem,
en keer geseglik en deemoedig
na die Groot Pols terug.

Tuesday, 22 November 2016

Boodskap
Freda Plekker

Vir Koos


As jy hulle sien
vier wit wilde-eende in die wind oor die water
vier klein kantelende koeverte
sal jy weet
dat die wenende wier van my wasdom
nog hyg
onder water
dat die omgekeerde hemel nog slaap
in die Boeddha-oë en die knypers van krappe
dat die leë mandjies van vinkneste
nog uitstallings hou
bedelmandjies mymerend
teen 'n muur van mimosas
sal jy weet
dat die gety nog skryf-uitvee-en-skryf
aan die manuskrip van my oewers
dat ek nog geskrywe word
want daar's 'n vrou en haar stap
in die rokspante van die water
en sy in die sjaal van die wind.

Monday, 21 November 2016

XVII vroegherfs
Johan van Wyk


Die kind kom uit die vuil kamer,
kom uit die venster wat verskroei, en uit die langer mandjie
wat vinnig op die swart tafel en wolkerige
boom hardloop; tien takke word drade
en pype; en 'n tweede vlermuis skiet
korrelrig tot 'n grys boek en skedel,
dat die hoender in die grondige masker
teen elke skraal stoel witter suig.
O, Hitler, laat 'n kat kruip:
laat alles beweeg wat ryk en salig is
of lui bottelrig, en blou van die slang;
laat pers word, laat u sneeu staan, laat staan
haar huis op al die kaste, tot dit eindelik wit
en sidderend op die skamper skoen val.



Sunday, 20 November 2016

Oggendlied
Breyten Breytenbach
(vir Uys Krige en Paul van Ostayen)


Môre donkerbreek-dagbreek, ligfetus
met handjies en hare platgelek
jou klopkaatsende hart van silwer!
        môre sien

Môre algroot en stewige land
jy wat boom en dier dra op die mou
en jy wat die lug 'n staanplek gee!
        môre vorm

Môre kafferpruimboom wat met die hart ook
broodjies bloed gee, bougainvillea o moenie rou,
doringboom lek jou penne skoon!
        môre kleur

Môre kraanvoël blou keelskoonmaker,
heuningsnawel kwêvoël, bosduif ou boomkoelte,
swaeltjie en hotnotsgod, makou wat waar skater!
        môre verbeelding

Môre mier jou jeukerige moesie van die nag,
môre dam met damvisse, môre bok, sê môre os,
môre palmboom en groen gebeentes in die lug!
        môre besef

Môre son en wolke ver agter senuwees
agter visioene van silwer bloed —
hoe gaan dit anderkant die wêreld?
        jy ook al op, pitpyn?

Môresê mens, jy wat dit alles skep as jy síén
en ervaar in kleur, lang skredes oor die vaste aarde gee
om klapbeen te vlieg
        :en vernietig tuimel as dié wete uit jou vaar.


(Ezulwini)

Saturday, 19 November 2016


Wat ek met berge gemeen het

Wilma Stockenström


Wat ek met berge gemeen het — dis nou

plattes met handlangers of hooggebore
enkellinge — is bra min, toegegee.
Maar ek deel met hulle 'n legio
spelonke wat ligskrefies inlaat;
maar innooi so nimmer as te nooit.

Nee, ek is 'n spelonk hoog aan 'n hang

bo die see, met 'n gedreun in my
en 'n oop verweerde aangesig en 'n skerp
reuk van vlermuis- en dassiemis en -pis
en 'n bek vol lig en lieg en waan
en ek bulder binnensmonds en ek treur.

Maar ek sou wou wees: die een

tussen baie met die groot druipsteensale
en die wonderskone wete en ek sou wag.
En ek sou die steenbokkie, die vlugtende,
wat in my verdwaal, langsaam laat vrek
en sy skelet toedrup met fantasie.

Grot is ek: bewaarder van geslagte

se skreeuende gebeentes en hopies klip.
Grot ek: die berghaan se klankversterker.
Die berghaan draal. Hy sleep skalks
sy klein stompstertskadu deur my, 
en met die skaduprent op my tong

stamel ek my ganse leegheid uit.



Thursday, 17 November 2016

My mamma is bossies
Jeanne Goosen


My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar my kind, bedaar
more kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies

ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaartje uit
Hoe mooi is sy nie
Sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid

My mamma is bossies

Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met 'n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
My agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Wednesday, 16 November 2016

ʼn Kleindorpse fragment
Sheila Cussons


Is al my paadjies toegegroei?
Ek het so lig oor hulle gegaan,
met spitse kaalvoet kennis hier
en daar net grondgevat
want oral was die aarde een
vyandigheid van hitte, duwweltjies en mier:
ek sien my nog waaghalsig nael
soos sonde oor die werf wat gloei
en bitsig aan my voetvel byt,
en, kop omlaag, my vasloop teen
die hele Maandagwasgoeddraad

se haelwit selfgeregtigheid.