Oggendlied
Breyten Breytenbach
(vir Uys Krige en Paul van Ostayen)
Breyten Breytenbach
(vir Uys Krige en Paul van Ostayen)
Môre donkerbreek-dagbreek, ligfetus
met handjies en hare platgelek
jou klopkaatsende hart van silwer!
môre sien
Môre algroot en stewige land
jy wat boom en dier dra op die mou
en jy wat die lug 'n staanplek gee!
môre vorm
Môre kafferpruimboom wat met die hart ook
broodjies bloed gee, bougainvillea o moenie rou,
doringboom lek jou penne skoon!
môre kleur
Môre kraanvoël blou keelskoonmaker,
heuningsnawel kwêvoël, bosduif ou boomkoelte,
swaeltjie en hotnotsgod, makou wat waar skater!
môre verbeelding
Môre mier jou jeukerige moesie van die nag,
môre dam met damvisse, môre bok, sê môre os,
môre palmboom en groen gebeentes in die lug!
môre besef
Môre son en wolke ver agter senuwees
agter visioene van silwer bloed —
hoe gaan dit anderkant die wêreld?
jy ook al op, pitpyn?
Môresê mens, jy wat dit alles skep as jy síén
en ervaar in kleur, lang skredes oor die vaste aarde gee
om klapbeen te vlieg
:en vernietig tuimel as dié wete
uit jou vaar.
(Ezulwini)
No comments:
Post a Comment