Sunday, 1 December 2019

Duif
Johan Myburg


Sonder vlugopnemer en met g'n bestek, g'n aanduiding
van beplande aankoms of vertrek, lê die duif stokstyf onder
die linkerluik. Waar het hy fladderend opgevlieg: 'n boomtak,
'n grasperk? Was hy al goed op dreef, sierlik aan't mik
na 'n skreef tussen twee soliede mure, 'n poort na oop lug,
'n windbuksvrye oord waar slu huiskatte nie in tuine skuil 
nie, 'n deurgang na vrye en ononderbroke vlug?
In daardie laaste breukdeel van 'n flits, te laat om uit te swenk
of sy ewebeeld te ontduik, het hy vasgevlieg in 'n plaat vensterglas
en in skimmel, van toe oog tot bek tot pluim, 'n perfekte portret voltrek.


Saturday, 30 November 2019

net vir jou dié polsende somervrug in plas sap op bord
Breyten Breytenbach


om mango's van madagaskar
rooi oop
te slag en die waterige sonvlees
uit die taai vel
te knip,
te verorber met skerp lepeltjies
as die god die muwwe aardvrug
                                  seën
dit buite skelettige straaltjies
                                  reën

vergenog die kieste en
maak die maag somer a

bedank my bruid van laasnag, maar
veel vollediger nog: as jy
heerlik hier op die bultende bed
saam met my
smul jy
met die voëltjiehande en goeie god
jou oë 2 buikige sonvisse in 'n waterbak

maak dit my hart so
soet o
soos 'n mango uit madagaskar


Tuesday, 12 November 2019

Nagwaak
Johan Myburg


Ek gaan slaap, word nanag wakker met 'n bejaarde oor
veel ouer as my gesig. 'n Behaarde skulp soos 'n koolblaar
sprei oor die sloop. Dié oor hoor in 'n ander register, ander goed
as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in 'n sleutelgat
die knip van 'n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbraak
en betreding — dis nie die trilling van stewel in stiebeuel
van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril
nie — die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese
wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:
om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.
Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip
die vasdraai doe pad wat eindig in 'n slop.


Monday, 11 November 2019

Die antwoord
Uys Krige


Wat roep die meeu
teen die blou
van die lug,
teen die wit 
van die wolk,
teen die grys
van die berg,
bo die grou
van die duin,
die skulpwit
van die strand
en die skuim
van die see?

Tussen die lug
en die land,
tussen die berg
en die baai,
groen golf
en groen golf
roep hy
en die wind roep mee
en dis ook die roep van die see
en die roep van die hart,
verlate, verward:

Wee, o, wee,
sonder rus, sonder vree
die trotse hart
ondanks sy smart
verhewe
in sy strewe
bo die lewe
— bo die gebrek en die nood
aan die skamele brood,
bo die swoeg en die sweet
en die nood en die leed
van die bittere stryd
om menswaardigheid.
Nee, nee,
nooit sal hy in kan tree
tot die geseënde stee
van 'n volle lewe
sonder vrees, sonder bewe.
Nee, nee,
nooit word hom rus gegewe,
steeds word hy in homself gedrewe,
nooit word hy van dié straf onthewe,
want hy's verdeel, verdeel!
geskei van die geheel,
met die maat verloor,
die ritme verstoor...

Nee! Nee!
Nooit word hom die geluk beskoor,
geen blydskap hoe gering
om van te sing,
geen vrugbaarheid
of seën op sy stryd,
geen sterlig op sy donker baan,
geen vaste plek om op te staan
altyd, altyd,
van nou af aan,
van nou af aan
tot in die ewigheid.


Sunday, 10 November 2019

Die seemeeu
Uys Krige


Tussen die wit huis 
en die wit huis, 
teen die wit wolk,
teen die grys berg
hoog bo die see
silwer en grys
silwer en grys
van golwe aaneen
tot die verste vaal
horisonne heen,
styg en daal,
styg en daal
die wit seemeeu
aaneen
alleen...

Wat sing die see?
Wat kla die wind?
Wat roep die meeu?
Wat snik die hart
aaneen
alleen?

Die see sing,
die wind kla,
die meeu roep,
die hart snik
tussen die wit huis

en die wit huis
op die helder dag
silwer en grys,
silwer en grys;
waarheen?
waarheen
aaneen
alleen, alleen, alleen?

Friday, 26 April 2019

Skoppensboer
Eugène N. Marais


I
'n Druppel gal is in die soetste wyn;
'n traan is op elk' vrolik' snaar,
in elke lag 'n sug van pyn,
in elke roos 'n dowwe blaar.
      Die een wat deur die nag
      ons pret beloer
      en laaste lag
      is Skoppensboer.

II
Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
      Net pagters ons
      van stof en dons
      om oor te voer
      aan Skoppensboer.

III
Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in 'n goue gloed:
die dagbreek op elk' sagte wang
en oge vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly;
      Want swart en droef,
      die hoogste troef
      oor ál wat roer,
      is Skoppensboer.

IV
L'Envoi
Gewis is alles net 'n grap!
Ons spell in die komedie mee
geblinddoek met 'n lamfer-lap
wat selfs die son 'n skadu gee.
      Wat treur ons nog?
Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
      Dus onverlee
      lag ons maar mee
      met elke toer
      van Skoppensboer!


Wednesday, 24 April 2019

windblom
Breyten Breytenbach


soms hou jy 'n hibiskus
in die kelk van jou gedagtes:
jy sit geelogig aan die rand
van hierdie land van aande
met die wind in die hande
'n fluistering van dooie ore komma

die see spoeg 'n sirkel om julle verblyf
so koud soos silwer:
bougainvillea beweeg met die passie 
van selfstandige skoonheid komma
'n akkedis skryf die grammatikaal van klipmure
en piesangbome is waaierdanseresse

in die donker bring die kriek die wind
geklont as klank in die huis komma
dieper verby 'n ander kus
waar die maan papierblaar vuur
maak in 'n kelk van sand
en die wind punt wind punt wind


Monday, 15 April 2019

Notre-Dame de Paris, 15 April 2019
Breyten Breytenbach


maar die groenspaanhaan
wat genael bo op die vingerwysing kon staan
om met 'n stil vergaan van koper
die verbydraai van eeue die hoof te bied

het na benede gestort 
deur die inferno van vlamme en roet
om op die werf tussen as en splinters
en gebarste juweelvonke nou gelouter


Wednesday, 3 April 2019

ek verbeel my
Marlise Joubert

          na die lees van "I imagine a poet" deur Adonis


ek verbeel my my ma waar sy
op die hawehoof by die see bly staan
soos 'n digter leun sy op haar wandelstok

ek herhinner my haar stem
is 'n stram klavier wat in haar keel
versplinter wanneer sy na my roep

ek verbeel my 'n ma
wat haar bloed soos 'n digter laat reën
sodat ander 'n vlag kan hys

waarom verkondig niemand haar naam nie —
vertel my wat ek nie kan sien nie
vertel my wie draai die tyd op sy rug
wat hou die wind vas as dit
op die punte van sy tone spin?

verkondig tog haar brandende wimpers
haar gebreekte hande haar laaste dae
sê of die lamplig stem of gedagte is
en hoe ek verder moet onderskei
tussen die insek en die blom

vertel my of daar 'n rede is vandag
om die hemel met wolke te graveer
sê my of die aarde weer uit
my jeug se alfabet sal herrys

sy tel reeds iedere mot wat verdrink
in die krematorium se vlammesee
sy groet die kinders se kerse snags
soekend na lig in 'n donker land

sy laat haar wandelstok agter

*

ek verbeel my ma nie meer nie
sy is afgelos uit tyd en dialoog
haar stem sonder melodie
haar keel sonder vuur haar lewe
is die stilte van as

in  my hand se palm hou ek
haar stilstand vas


Monday, 4 March 2019

"Waar Tebes in die stil woestyn"
Eugène N. Marais


Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef
En Mara in die sand verdwyn;

Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend' hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;

Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal,
En grootwild om die syferkuil
As skadu's in 'n stofwolf maal;

En huiswaarts brommend sluip die tier,
Sy donker moordplek pas verlaat,
Wanneer die eerste grou lumier
Met slepend' mis die veld beslaat.

O land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van u hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.

Sou ek een guns nog hier verdien,
— Nog een gebed omhoog verhoord —
Geen mensepraal sou ek wou sien,
Die glorie van geen vreemde oord.
My bede sou net dit verkry: —
Laat weer U eensaamheid my daar
Vir laas met roerend' mag berei
U groter stilte te aanvaar.

Laat uitlok deur geen suil of steen
'n Enkel sug of woord van haat;
Met al U vrede om my heen
Sal nagt'liks uit die hemelstraat
Sag neerskyn op my laaste huis
Die vonkelend' sterrebeeld van U kruis.

Elk' ydel vrees sal daar verdwyn;
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef.


Sunday, 3 March 2019

kringloop
Marlise Joubert


sy het nie aan 'n sluipende dood gedink
toe sy haar kinders grootgemaak het nie
die dood was ver soos sluiers reën

met soms 'n rammeling en spataarflits
agter die horison van 'n volgende eeu
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

want daar was telge om te voed
die vrede was groen, die huis 'n troos
die dood was ver soos sluiers reën

daar was 'n stoet van grootouers
daar was ma en pa, 'n oom en niggie
sy het nie aan die sluipende dood gedink nie

toe het almal in 'n marmerwolk
verdwyn, maar sy het reeds vermoed
die dood was ver soos sluiers reën

weerlig begin 'n langarmdans, rammel
net duskant haar huis en verlig haar vrees:
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

die dood was ver soos sluiers reën


Sunday, 24 February 2019

Exit Octopus vulgaris
Marlene van Niekerk


Die digter, oorgevoelige wese, kan gerus 'n voorbeeld neem
aan wat die seekat moet versin deur haar gebrek aan skulp:
verdeel die hart betyds in drie, die brein in nege dele,
splyt die voet in twee kwatryne, vir Worcester vier,
die origes vir Wellington, tatoeëer die kripsiskunde
in al die lae van die vel, skurf soos klippe in die Pakhuisberg,
glad soos Stilbaaiwier, ossileer soms as korbeelhuis
uit die rococo in pruimepienk koraal, bluf jou smart 
met stekelsteunpilare uit 'n middelgoties katedraal,
maak die aardkloot tot jou oester, jou bedstee
uit 'n kokosneut, berei in nood jou ligspigot
teen die inval van die Kaapse aal, die naywerige
snotglad rob, hersien die pomp, vul die swart foedraal,
trek die binneborstrok haaks, mik jou gulste waterstraal,
en vuur — psiempsoem! — 'n heksepluim van drukkersink,
vlug kop eerste in die wolke der onwetenheid,
al jou sinne in een kraal.


Tuesday, 19 February 2019

Aan 'n verdrinkte
Petra Müller


Ek sal jou in my bly behou, verby verdriet,
verby berou, tot in die nag se winterblou verduistering;
die poel waarin die visse spring, is webbe van herinnering
waarin ek nette vir jou bring. Met elke oggend se gety
spoel jy opnuut by my verby, en bly jy deur my vingers gly,
en tog sal ek jou bly behou solank die see
my in sy branding hou. Dié see,
wat daagliks uitwis wat die nag wou skryf, sal jou
in vlugpatrone opdryf op die kus waar ek, 'n kind
wat stadig aanleer om te spel,
jou uit die veegseltjies herstel.
Daar lê 'n leeftyd voor
om klaar te plet aan hierdie
oggend-alfabet.


Thursday, 3 January 2019

nagpsalm
Marlene van Niekerk


dis 'n ou klavier wat die nag verklaar
dis 'n klawerbord
by die voete van dinge

by die voete van lamppale
by die vrank voete van die olyfbome
dis metronome
by die soeter voete van die suurlemoenboord
in die vlei se voet van water
onder om die riete
om die voete van die lelies
dis 'n ou klavier
miskien is dit 'n weefstoel
dis die weefstoel se klikkende pedale
of smidsgetinkel
onder in die molm van die nag
of 'n naaimasjien met 'n klopvoet
wat zik-zik binne-in die kuil
dis skelm jazz op klepels
dis om die voet van elke halm
minus melodie
sonder kadans
dis 'n ou klavier
dis 'n ou klavier
dis 'n spikkeling onder die voetsool
dit galm
om die voet van die laventel
dis voetlepels
dis voetmusiek
van kikkers en van krieke
dis hulle wat so dingel wat so dienk
aanhoudend in die elm van die gras
hierby hum ek
hierby  strum ek
hierby swingel ek
my nagpsalm.

Wednesday, 2 January 2019

Die ewigheid
Charl-Pierre Naudé


Van al die wêreld se begrippe
is daar slegs een wat afsluit, naamlik
die ewigheid. Helaas, sonder afloop.
Moet ek dit nog sê,
dat ek dié gedig in 'n tydlose plek
uitgedink het maar oplaas
nie tyd gehad het om dit te skryf nie.
Ek moes vertrek — inderhaas — en kom
nou eers daarby uit, in die verbygaan.
Shakespeare het self oor die ewigheid geskryf,
op sy knie, terwyl hy wag vir die akteurs om op te daag.
Absurd, dat iets so groot en omvattend
ingepas moet word, tussen nietigheid.
'n Bietjie soos om die knoffel met wildsvleis te stop.
Soos om 'n Boeing per lugpos te stuur, 
"spoed" groot op die koevert geskryf.
Die Moeder, in die nissie van 'n kind se hande.
"Ware liefde is vir ewig," het sy oor die foon gesê.
En dis toe dat die onderwerp hom voordoen.
Ons was al geruime tyd uit.
'n Mooi liefde maar verby — geruime tyd.
Ek het juis weggegaan om my te onttrek, eens en vir altyd.
En dis daar wat ek toe die glimp kry, van die ewigheid.
Ironies, om die ewigheid in 'n glimp te sien.
In daardie halfwoestyngeweste is 'n pragtige struik
wat ondergronds in sy bol bly om slegs te bloei
in 'n waaier van stywe lote en peulblomme
— soos die eerste oop hand met helderpienk vingernaels —
een maal 'n jaar, miskien elke tweede jaar
vir slegs een dag. 'n Enkele dag. Vir ewig, so voort.
En selde weer op dieselfde plek.
Daardie plant is miljoene jare oud.
Dís mos nou die ewigheid. "Is jy nog daar?"
"Ja," antwoord ek haar,
daardie dag oor die foon,
vir ewig en altyd."


Tuesday, 1 January 2019

Oggend van 'n waterfiskaal
Marlene van Niekerk

       (Uit die Cederbergsuite)


Allagot! geglip uit die knukkels
van hierdie kant se koskans- en hansmaker
wip die waterfiskaal die oggendkier in,
kaneeeeeel van verbasing op sy bors,
onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle
spiksplinterspuwende Dwarsriviersand,
tinktuuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke,
strak in die frak, die keil platgekam,
akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! —
triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel,
hokaai kohorte kansvatters
wat hy konter met pronkstand akimbo,
knipstert na die kindlig in die oewerkrui,
en wegstaan, kyk so, eeeeene Ollewagen-onderbaadjie,
hy is die een en innigste godontglipper
hier in die prilwilde hoogmakerson,
!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek
soos 'n klok in die bergkut, ketoooools
van die mondsagte môre.