Showing posts with label Marlise Joubert (Grondwater). Show all posts
Showing posts with label Marlise Joubert (Grondwater). Show all posts

Wednesday, 3 April 2019

ek verbeel my
Marlise Joubert

          na die lees van "I imagine a poet" deur Adonis


ek verbeel my my ma waar sy
op die hawehoof by die see bly staan
soos 'n digter leun sy op haar wandelstok

ek herhinner my haar stem
is 'n stram klavier wat in haar keel
versplinter wanneer sy na my roep

ek verbeel my 'n ma
wat haar bloed soos 'n digter laat reën
sodat ander 'n vlag kan hys

waarom verkondig niemand haar naam nie —
vertel my wat ek nie kan sien nie
vertel my wie draai die tyd op sy rug
wat hou die wind vas as dit
op die punte van sy tone spin?

verkondig tog haar brandende wimpers
haar gebreekte hande haar laaste dae
sê of die lamplig stem of gedagte is
en hoe ek verder moet onderskei
tussen die insek en die blom

vertel my of daar 'n rede is vandag
om die hemel met wolke te graveer
sê my of die aarde weer uit
my jeug se alfabet sal herrys

sy tel reeds iedere mot wat verdrink
in die krematorium se vlammesee
sy groet die kinders se kerse snags
soekend na lig in 'n donker land

sy laat haar wandelstok agter

*

ek verbeel my ma nie meer nie
sy is afgelos uit tyd en dialoog
haar stem sonder melodie
haar keel sonder vuur haar lewe
is die stilte van as

in  my hand se palm hou ek
haar stilstand vas


Sunday, 3 March 2019

kringloop
Marlise Joubert


sy het nie aan 'n sluipende dood gedink
toe sy haar kinders grootgemaak het nie
die dood was ver soos sluiers reën

met soms 'n rammeling en spataarflits
agter die horison van 'n volgende eeu
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

want daar was telge om te voed
die vrede was groen, die huis 'n troos
die dood was ver soos sluiers reën

daar was 'n stoet van grootouers
daar was ma en pa, 'n oom en niggie
sy het nie aan die sluipende dood gedink nie

toe het almal in 'n marmerwolk
verdwyn, maar sy het reeds vermoed
die dood was ver soos sluiers reën

weerlig begin 'n langarmdans, rammel
net duskant haar huis en verlig haar vrees:
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

die dood was ver soos sluiers reën