Showing posts with label Johan Myburg (Uittogboek). Show all posts
Showing posts with label Johan Myburg (Uittogboek). Show all posts

Sunday, 1 March 2020

Hadida 2
Johan Myburg

       Bostrychia hagedash


Noudat jy taksonomies herbenoem is
kater jy nou in 'n ander stem?
Word jy anders getakseer noudat
jou naam sy stottering verloor het,
jy 'n poëtiese kwaliteit, 'n singende
metrum ingeboet het? Is jy 'n ander voël nou
of dek dit net my leksikon? Te oordeel
aan die pluim wat losgekom het op my grasperk
smokkel jy steeds met smaragde.
Dorsaal onder jou piouter vlerk glimmer
jou juwele nog soggens as jy neerstryk
op my erf of as jy teen vyf
in die middag weemoedig weerklink
in die buurt voordat dit donker word:
Hagedashia hagedash. Hadashia 
hagedash.


Saturday, 1 February 2020

Reitzstraat, Potchefstroom
Johan Myburg

     TTC


Sommige somers, as jy jou blou Valiant pak
en see toe verkas met jou Anna en kroos,
het ek 'n oog oor jou tuin moes hou teen
verdroging, en ingeval: 'n Jong tuin is broos
as reën wegbly in Desember. Van oorkant die straat
het ek, toe nog 'n skolier, gesien hoe jy perke laat spit,
buitelyne beplan en beddings vul met struike: vir lower
vir blom vir geur; gesien hoe jy rankers voorlopig stut
met riet. Gaandeweg het ek patrone begin snap:
dat sipresse net in pare alleenheid oorleef; dat die pom-pom
van 'n blomperske net uit kaal takke kartetse kleur
kan skiet; dat die lente, benewens in die kweper, ook blom
in die dweperige pers van die yl tamarisk. In dié tuin
het ek begryp hoe vingers groen kan vroetel,
hoe oog en oor en neus die taal van tuin kan lees.
Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel
en algaande woord vir woord aan die groei gekry,
later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor
in kwatryne. Sedert swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van 'n rymende eindkoeplet.


Thursday, 2 January 2020

Vertoonkas
Johan Myburg


Sieraad van haar sitkamer was dié ligbruin
kas — terugskouend vermoed ek dit was fineer —
met geelkoperbeslag en twee panele glas
wat parallel in gleuwe heen en weer
kon skuif. Loop jy oor die bont tapyt begin
daarin 'n menagerie van porselein vibreer
op trillende vloerplanke; pronk 'n pou
pierewaaierend 'n ragfyn halfmaan veer;
skrik springbokkies en 'n haas van sjokolade
vir 'n maanhaar, 'n replika van 'n Landseer-
leeu dekades gestol in glas en wat nou onderlangs
begin te grom. Asof seismies gewek registreer
'n skoener, effe na agter, 'n teenwind in sy takel;
span onsigbare matrosies seile en laveer
die skippie terug oor ysige oseane; in die hande
van die klein kaptein sweerlik 'n narwalspeer.
Die seile sak tot halfmas, die pou vou sy trots
teleskopies terug, bokkies, haas én leeu kalmeer.
As natrilling ril ondervel, neffens rosies van marsepein, 
'n gevange eenhoring op 'n poskaart, gefrankeer,
maar nooit gestuur nie. In skemerte is ek jare gelede
in dié voorstedelike Wunderkammer ingesweer
as verkenner van negosie. Mettertyd sou ek
kuriositeite as versamel teen vergeet waardeer,
sjokolade marsepein glas papier porselein as
afstand van 'n verbeelde bestaan takseer.


Sunday, 1 December 2019

Duif
Johan Myburg


Sonder vlugopnemer en met g'n bestek, g'n aanduiding
van beplande aankoms of vertrek, lê die duif stokstyf onder
die linkerluik. Waar het hy fladderend opgevlieg: 'n boomtak,
'n grasperk? Was hy al goed op dreef, sierlik aan't mik
na 'n skreef tussen twee soliede mure, 'n poort na oop lug,
'n windbuksvrye oord waar slu huiskatte nie in tuine skuil 
nie, 'n deurgang na vrye en ononderbroke vlug?
In daardie laaste breukdeel van 'n flits, te laat om uit te swenk
of sy ewebeeld te ontduik, het hy vasgevlieg in 'n plaat vensterglas
en in skimmel, van toe oog tot bek tot pluim, 'n perfekte portret voltrek.


Tuesday, 12 November 2019

Nagwaak
Johan Myburg


Ek gaan slaap, word nanag wakker met 'n bejaarde oor
veel ouer as my gesig. 'n Behaarde skulp soos 'n koolblaar
sprei oor die sloop. Dié oor hoor in 'n ander register, ander goed
as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in 'n sleutelgat
die knip van 'n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbraak
en betreding — dis nie die trilling van stewel in stiebeuel
van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril
nie — die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese
wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:
om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.
Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip
die vasdraai doe pad wat eindig in 'n slop.