Thursday, 2 January 2020

Vertoonkas
Johan Myburg


Sieraad van haar sitkamer was dié ligbruin
kas — terugskouend vermoed ek dit was fineer —
met geelkoperbeslag en twee panele glas
wat parallel in gleuwe heen en weer
kon skuif. Loop jy oor die bont tapyt begin
daarin 'n menagerie van porselein vibreer
op trillende vloerplanke; pronk 'n pou
pierewaaierend 'n ragfyn halfmaan veer;
skrik springbokkies en 'n haas van sjokolade
vir 'n maanhaar, 'n replika van 'n Landseer-
leeu dekades gestol in glas en wat nou onderlangs
begin te grom. Asof seismies gewek registreer
'n skoener, effe na agter, 'n teenwind in sy takel;
span onsigbare matrosies seile en laveer
die skippie terug oor ysige oseane; in die hande
van die klein kaptein sweerlik 'n narwalspeer.
Die seile sak tot halfmas, die pou vou sy trots
teleskopies terug, bokkies, haas én leeu kalmeer.
As natrilling ril ondervel, neffens rosies van marsepein, 
'n gevange eenhoring op 'n poskaart, gefrankeer,
maar nooit gestuur nie. In skemerte is ek jare gelede
in dié voorstedelike Wunderkammer ingesweer
as verkenner van negosie. Mettertyd sou ek
kuriositeite as versamel teen vergeet waardeer,
sjokolade marsepein glas papier porselein as
afstand van 'n verbeelde bestaan takseer.


No comments:

Post a Comment