Wednesday, 2 January 2019

Die ewigheid
Charl-Pierre Naudé


Van al die wêreld se begrippe
is daar slegs een wat afsluit, naamlik
die ewigheid. Helaas, sonder afloop.
Moet ek dit nog sê,
dat ek dié gedig in 'n tydlose plek
uitgedink het maar oplaas
nie tyd gehad het om dit te skryf nie.
Ek moes vertrek — inderhaas — en kom
nou eers daarby uit, in die verbygaan.
Shakespeare het self oor die ewigheid geskryf,
op sy knie, terwyl hy wag vir die akteurs om op te daag.
Absurd, dat iets so groot en omvattend
ingepas moet word, tussen nietigheid.
'n Bietjie soos om die knoffel met wildsvleis te stop.
Soos om 'n Boeing per lugpos te stuur, 
"spoed" groot op die koevert geskryf.
Die Moeder, in die nissie van 'n kind se hande.
"Ware liefde is vir ewig," het sy oor die foon gesê.
En dis toe dat die onderwerp hom voordoen.
Ons was al geruime tyd uit.
'n Mooi liefde maar verby — geruime tyd.
Ek het juis weggegaan om my te onttrek, eens en vir altyd.
En dis daar wat ek toe die glimp kry, van die ewigheid.
Ironies, om die ewigheid in 'n glimp te sien.
In daardie halfwoestyngeweste is 'n pragtige struik
wat ondergronds in sy bol bly om slegs te bloei
in 'n waaier van stywe lote en peulblomme
— soos die eerste oop hand met helderpienk vingernaels —
een maal 'n jaar, miskien elke tweede jaar
vir slegs een dag. 'n Enkele dag. Vir ewig, so voort.
En selde weer op dieselfde plek.
Daardie plant is miljoene jare oud.
Dís mos nou die ewigheid. "Is jy nog daar?"
"Ja," antwoord ek haar,
daardie dag oor die foon,
vir ewig en altyd."


No comments:

Post a Comment