Wednesday, 23 November 2016

Die valkenier
Ernst van Heerden


Onder die dagboog
het die edelvalk met sy gehuikte oë
'n trotse onderdanigheid geleer;

as hy sy keiserlike skedel rukkerig draai,
word uit die moederlug
deur die vrye vlerkvolk
van bloedvink, mossie, kerkkraai
reeds die gefnuikte se ver verraad vermoed.

Al word 'n vleisklos bekoorlik rondgeswaai,
sy perke bly steeds uitgestippel
en hy meegéwend met 'n nawelstring verbind;
die vryheid loop net treë ver —
tot in die eerste wipsprong
waar hy die enge ruimte mag verken.

Al is die lokaas mals en rooi,
al is die klowe groen bebos,
al is sy wêreld ryk betwetter,
die onderhorige hoor net 'n enkel stem,
en keer geseglik en deemoedig
na die Groot Pols terug.

Tuesday, 22 November 2016

Boodskap
Freda Plekker

Vir Koos


As jy hulle sien
vier wit wilde-eende in die wind oor die water
vier klein kantelende koeverte
sal jy weet
dat die wenende wier van my wasdom
nog hyg
onder water
dat die omgekeerde hemel nog slaap
in die Boeddha-oë en die knypers van krappe
dat die leë mandjies van vinkneste
nog uitstallings hou
bedelmandjies mymerend
teen 'n muur van mimosas
sal jy weet
dat die gety nog skryf-uitvee-en-skryf
aan die manuskrip van my oewers
dat ek nog geskrywe word
want daar's 'n vrou en haar stap
in die rokspante van die water
en sy in die sjaal van die wind.

Monday, 21 November 2016

XVII vroegherfs
Johan van Wyk


Die kind kom uit die vuil kamer,
kom uit die venster wat verskroei, en uit die langer mandjie
wat vinnig op die swart tafel en wolkerige
boom hardloop; tien takke word drade
en pype; en 'n tweede vlermuis skiet
korrelrig tot 'n grys boek en skedel,
dat die hoender in die grondige masker
teen elke skraal stoel witter suig.
O, Hitler, laat 'n kat kruip:
laat alles beweeg wat ryk en salig is
of lui bottelrig, en blou van die slang;
laat pers word, laat u sneeu staan, laat staan
haar huis op al die kaste, tot dit eindelik wit
en sidderend op die skamper skoen val.



Sunday, 20 November 2016

Oggendlied
Breyten Breytenbach
(vir Uys Krige en Paul van Ostayen)


Môre donkerbreek-dagbreek, ligfetus
met handjies en hare platgelek
jou klopkaatsende hart van silwer!
        môre sien

Môre algroot en stewige land
jy wat boom en dier dra op die mou
en jy wat die lug 'n staanplek gee!
        môre vorm

Môre kafferpruimboom wat met die hart ook
broodjies bloed gee, bougainvillea o moenie rou,
doringboom lek jou penne skoon!
        môre kleur

Môre kraanvoël blou keelskoonmaker,
heuningsnawel kwêvoël, bosduif ou boomkoelte,
swaeltjie en hotnotsgod, makou wat waar skater!
        môre verbeelding

Môre mier jou jeukerige moesie van die nag,
môre dam met damvisse, môre bok, sê môre os,
môre palmboom en groen gebeentes in die lug!
        môre besef

Môre son en wolke ver agter senuwees
agter visioene van silwer bloed —
hoe gaan dit anderkant die wêreld?
        jy ook al op, pitpyn?

Môresê mens, jy wat dit alles skep as jy síén
en ervaar in kleur, lang skredes oor die vaste aarde gee
om klapbeen te vlieg
        :en vernietig tuimel as dié wete uit jou vaar.


(Ezulwini)

Saturday, 19 November 2016


Wat ek met berge gemeen het

Wilma Stockenström


Wat ek met berge gemeen het — dis nou

plattes met handlangers of hooggebore
enkellinge — is bra min, toegegee.
Maar ek deel met hulle 'n legio
spelonke wat ligskrefies inlaat;
maar innooi so nimmer as te nooit.

Nee, ek is 'n spelonk hoog aan 'n hang

bo die see, met 'n gedreun in my
en 'n oop verweerde aangesig en 'n skerp
reuk van vlermuis- en dassiemis en -pis
en 'n bek vol lig en lieg en waan
en ek bulder binnensmonds en ek treur.

Maar ek sou wou wees: die een

tussen baie met die groot druipsteensale
en die wonderskone wete en ek sou wag.
En ek sou die steenbokkie, die vlugtende,
wat in my verdwaal, langsaam laat vrek
en sy skelet toedrup met fantasie.

Grot is ek: bewaarder van geslagte

se skreeuende gebeentes en hopies klip.
Grot ek: die berghaan se klankversterker.
Die berghaan draal. Hy sleep skalks
sy klein stompstertskadu deur my, 
en met die skaduprent op my tong

stamel ek my ganse leegheid uit.



Thursday, 17 November 2016

My mamma is bossies
Jeanne Goosen


My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar my kind, bedaar
more kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies

ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaartje uit
Hoe mooi is sy nie
Sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid

My mamma is bossies

Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met 'n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
My agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Wednesday, 16 November 2016

ʼn Kleindorpse fragment
Sheila Cussons


Is al my paadjies toegegroei?
Ek het so lig oor hulle gegaan,
met spitse kaalvoet kennis hier
en daar net grondgevat
want oral was die aarde een
vyandigheid van hitte, duwweltjies en mier:
ek sien my nog waaghalsig nael
soos sonde oor die werf wat gloei
en bitsig aan my voetvel byt,
en, kop omlaag, my vasloop teen
die hele Maandagwasgoeddraad

se haelwit selfgeregtigheid.