Tuesday, 13 February 2018

Holberg
Naudé Kritzinger


Die oues sê die aarde is
'n kremetart en oud.
Die jare het haar uitgehol
dat net die bas en bietjie hout
'n korfstruktuur daar bou,
met ondergrondse steierwerke
tot waar die geeste draal.

Dit word vertel;
as jy jou laaste asem uit sou blaas
jy dun sal word:
jou hande op sal lig,
soos 'n stukkie strooi sal sak,
af met die kors se pype
tot in die warm hart.

Hulle sê, al het 'n oog dit nooit gesien nie,
'n boomsaad daar soos 'n eier broei
en op die dag as die dop oopkraak
alle tyd weer oor begin.


1 comment:

  1. hoeha! Jou verse is cooler as myne! Ek laaik hierdie blog kwaai

    ReplyDelete