Friday, 16 December 2016

Die strandjutwolf
N. P. van Wyk Louw


Dit kom net met die donker maan:
ek hoor dit vér eers roep
soos iets wat klae in die veld;
dan is dit by die stoep ...

hy snuiwe aan die drumpel saggies
en roer rondom die huis,
ek hoor hom ruik-ruik asemhaal 
en krap by die kombuis;

die hele werf is vol van hom:
daar waar die ploeë blink,
daar dien ek die os-groot skadu roer
en hoor iets ysters klink.

Ek weet hy is so grys en groot,
dat as hy regop klim
dan krap sy pote aan die nok,
hy luister by die skoorsteen in ...

en as ek in my kamer lê
en áls is stil en swart,
dan weet ek is dit in die huis,
ek luister na my hart,

ek weet sy oë is vaal en blind,
ek hoor hom sagter as 'n snik
net in die gang, en tussenin
my polshorlosie tik,

en op die helder dag weet ek
dat die Gryse by my bly,
ek hoor sy draffie en ek voel
sy wit oë agter my.

Thursday, 15 December 2016

Grense
N. P. van Wyk Louw


My naakte siel wil sonder skrome

in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;

gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.

Wednesday, 14 December 2016

skryfode
Antjie Krog


Writing is a fraught activity for everyone, of course, male or female, but women writers seem to have to take stronger measures, make more peculiar psychic arrangements, than men...
JANET MALCOLM: The Silent Woman


om te kan skryf moet ek myself binne kom
deur my te buite te gaan

ek verlaat die daglig
die sleur van gefabriseerde stemme
    en gaan ondergronds

ek reis soos 'n gedagte

dis stil hier
en volkome afgesluit
veilig    privaat
ek tas die wande af
ek gryp in die ongegronde donker grondelings rond
    om my stem te vind
om die geluid van die gedig te hoor
die reëls wat sag oopspat van êrens

en die skryf, die neerskryf, vind plaas in selfgeveg

(bogronds
wag die man wat ek liefhet
Sondae stap hy teen Leeukop
as die laatmiddaglig sloep teen die klip
die ruimte wat nie is nie
is nié, sê hy)

dit problematiseer die neerskryf
en ek baklei met myself tot die dood toe


die aarde kreun in die kleur van roes
die son sputter bros blou vure
waar is die woord aanvanklik werklik veilig?
waar maak dit die onbevange ontvangenis eers mee
voor dit getoets, verstel en vir bogronds verpak word?

(die wingerd teen die hange neem 'n verorberende groen eed
dat niks tot niet sal gaan onder hierdie styfgespanne winddeurwaaide lug nie
op maanlignagte kan jy die hoewe teen die klippe hoor sterremaak
maar wat sê dit?
hoeveel kleur bind jy hierin saam)


ek word wakker elders met 'n mond vol liewe woorde
hy, my lief
is my hartverstikke steun en toeverlaat
ek wil gewoon 'n lewe hê met hom

uit die steilte val twee karretjies ons verby
die eetkamer maak oop op 'n binneplaas van klip
    waar druiwe in die middagson rosyne word
hy vier sy 45ste verjaarsdag met 'n heel seekatjie
die nag slaap ons met die horte oop
na die geluid van die fontein toe
en die kerkklokke wat blindelings bedags oor koringvelde blaak

by die mark onder platane
koop ons 'n bak duifies
provençaalse vye
tapenades van basilie, trostamaties
en olywe gepekel in roosmaryn
drink ons wyn soos water
en vir poeding sagte bokkekaas en pruime

ek was wasgoed in 'n bad
ek is bogronds
ek stap op dié oggend flink van bekken en met vaste kuite uit
    in 'n klein agterplaas verruk van son
ineens bedwelm
deur die geur van vyeboom
en seep en son en klip
die sanderige blare en navrante koper

soos jy behoort ek aan die aarde
en die letsels daarvan


die liefde flikflooi in verskeie gedaantes
maar ondergrond is vir almal plek
    as middeljarige skadu's van mekaar
totdat hy uit die ronde groen stoel opstaan en sê:
ek het genoeg gehad
en sy tas afhaal
en dit donker word rondom
en ek opklou na lig moenie
moenie ons so laat los nie
van val tot val maak dit niks
maar 
hier nié
nie hier nie

ek skryf: die lig lek jou gesig skoon
silwer in die tippe
jy gee jouself weg deur jou oë

ek skryf: dis 'n oggend gemaak om in dood te gaan
in sy klamme nek onder die bloekombome
klappertand ek duislig na jou ketterse bek

ek skryf: jy eet asof jy feesvier
ek skrik vir my hongerte na jou geplette enkels
die aarde is warm met klein paddatjies

ek het alles te verloor
ek gee niks op nie
ek balanseer tussen wonde, rowe en keloïd


ondergronds kry die teks haar onbevange vorm
ek sny haar versigtig bogronds oop
waar dit my plotseling herfs-in stort
helder
ongedeerd
blare sif soos kole uit die brandende bome
jy gee my taal
jy maak jou oë vir my oop soos 'n hart
jy neem my in
    al is ek die ongeleë, ondankbare en ewig te late liefde

ondergronds durf ek nie hê nie
bogronds kry ek nie oorleef nie
alles tonnel te diep
ek soek op die wind 'n stem na jou toe
my lewe lê soos klip
woorde wil jou nie los nie
woorde kry jou nie gehou nie
kore byt op uit die gras
agter my serp sê ek jou naam jou naam
en die wind sny sneeu

jy is nooit uit my gedagtes nie
so seldsaam ingeprag
gee jy aan alles vel
my lewe gly weg in joue

swaar was dit nooit
jou liggaam is kleur
en nêrens bly jy terug nie
ek ken jou beter as lokval of tafsy of tou


ek kan jou nie afleer nie
as ek jou net stywer kan vashou

'n deur word oopgestoot na behaaglike son
elke keer as ek jou sien


soms word ek moeg van naamgee
van die worstelende selfgeveg
woedend en tot die dood toe
word ondergronds graf


gryp my, hou my hart,
ek kóm van jou nooit los nie
ek wens jou hier jou hand vir altyd skuinsgedraai
    in warm winterweefsel teen my wang
ek gaan die koue binne — alleen
met die dun blou lyn van berge in die vertes
dis verby, sê jy ondergronds
    van waar ek vandaan terugkom
    en 'n vergeefse landskap bewoon
hier nié
nie hier nie


ek funksioneer nie meer bo nie
ek is verby alle omgee
alles breek los
wat het ek verloor hier?
wat soek ek hier
in dié plek
waar ek altyd afwesig is?

ek het my hart opgegee
en leef nog net 
in my naels

waar slaap my liefde, my liefde vannag?


intussen het dit winter geword
ek droom hom ten gronde in die geraamte van my hart
gerugsteun en plotseling paraat
    bondel ek hom voetstoots ondergronds
sy oë verblou laaste
    voor ek die herinnering digklap

nooit had ek so liefgehad
as die oomblik toe ek hom verlaat


sy oë verweer tot 'n dun omlysting trane
grysgestreep en gehul in amaling    sy poniestert
    ruis in my hand
ek mis hom
dis die soveelste dag
en die woord is rou

waar slaap my liefde, wie stil sy verdriet
waar slaap my liefde, my liefste verniet
ek loop langs vreemde strate
my hande diep in my baadjie gesak
we tend my liggaam sal my hiervoor nóóit vergewe nie

wat is daar oor?

god wat doen hy op hierdie oggend
staan hy verlore in ons wit kombuis
skor langs die laaste rose


ek skil jou gesig af
ek byt jou tong soos 'n piesang uit jou mond
jou taal stort brandend op my in

ek draai verskroeid weg
die bome is so lewendig hier in die vreemde
en jou oë dryf in oordrewe lig na my toe aan
saam met jou is lieflikheid en sluimer fundamenteler as verraad
die aarde steier sag aan ons voete
om te hoort het ek jou gaan haal

want in die varsvoetige bogrondse ruimte
vat ek aan niks meer
asof dit myne is nie

ek wil weet waar slaap hy vannag?

hier of daar
bogronds of onder
ek wil terug na die plekke waar ek onstwee gemaak het
iets in my het opgegroei om jou te vind
en op daardie moment het pyn klank geword
wat van toe af duur
tot nou toe
moenie weggaan nie
ooit van my nie

(jy sou kon
dit is nie begeer nie
nie afweer nie
leer vergeet
'n ander vel
jy sou kon)

maar as die aarde met haarself praat
wil alles vlerke hê


na maande word die tonnel
    ondergronds oopgegrawe na lig
blind blus ek die son met safte pote
en hoor sy blysinnige bysiende lag: jy's hier
jy's hier
verinneweerd hou ons mekaar vas
mens
ek kan die aarde nie sonder jou nie

jy slaap
jy't kom slaap in my
en jou slaap hou alles vas
jy sink nooit weer uit my uit nie
deur my woord het jy my asem binnegetree
    met jou benerige mond

verby ons verouderde liggame en verlore letsels
hou ons mekaar vas
ons sak teen die grond neer
ons sien die gesig van ons sterfte:


en nou kan ek sê
(in my uitgevegte taal):
híér slaap jy vannag!
ek kan roep almal wat ek liefhet
en sê
kyk
die bome staan deurdrenk met soveel sterflikheid
    dat alles van verganklikheid skrei

ek smyt ons oë soos brandende kole na buite
ek raak jou middelkneukel lugtig aan
voor ons na ons
hoor 
duiwe koesterend tot in eeuigheid

verby die kneusings
haal ons versigtig asem
agteraan kef die dood
haperend aan die hakke

alles gaan tot niet
en alle skrywes en geskryfdes
maar hierdie aarde
hier stuiwende adembenemende blou tafereel
nié
ons raak mekaar aan met nuderwetse teerheid
ons wil duur om die aarde dop te hou
en taal te sny om die monument te betrag
die gemeenskap van ons bloed en ons hart

in die begenadigde woord
sou mens met mekaar kon hoort

raak my aan
vannag
my ontbindende wang met jou vingerpuntspriet

Tuesday, 13 December 2016

Illusie
Olga Kirsch


Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in 'n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar's iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Monday, 12 December 2016

Die towenares
Eugene N. Marais

Lied van die verbanne jong meid


Wat word van die meisie wat altyd alleen bly?
Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie;
sy maak nie meer die vuur van swart-doringhout nie.
    Die wind waai verby haar ore;
sy hoor nie meer die danslied nie;
    die stem van die storie-verteller is dood.
G'neen roep haar van ver nie
    om mooi woorde te praat.
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
    en die wind treur altyd
        om hy alleen is.

Sunday, 11 December 2016

Hart se praat 
Donald W. Riekert


Daardie aand om die vuur
sit vertel ou Kaizer Kakiejas
ons kinders van waterslang
in Groot Gariep se diep kuil
Ou Kaizer praat lank
in nat miskoek se brand
rol die woorde om sy een tand
vat ons bang-bang aan sy hand
voel die harde veelte
en wonder oor sy woord en beeld
kruip al hoe verder op in sy jas
al hoër tot ons teen sy kortrib
die storiehart voel klop.

Saturday, 10 December 2016

'n Gedig oor voëls
Daniel Hugo


dié gedig behoort deursigtig ruit
te wees waardéúr jy na hul kyk
en terwyl jy die woorde glashelder spoed en vryf
begin dit self soos voëltjies fluit

Friday, 9 December 2016

mardigras
Jeanne Goosen

snags by die diewelamp
soek ek in my grabbelsak
na ’n towerwoord
om nulpot mee te speel

met ’n trekmes en ’n dobbelsteen
speel ek om die keisersbaard
die altydblommetjie is my talisman
seblief-amulet teen die dwergpapegaai

teen middernag is ek kaduks gevoer
uit broesa se vuurpot
en hensop ek tussen die rooikatstert
die nôienslok
en die duiwel-innie-bos

Thursday, 8 December 2016

Uit: Die natuurbewaarder se vrou
Ina Rousseau

4

Met die tierboskat sou sy wou speel;
die aaskraai tem; die wildehond deurgrond;
wou die gebreekte skenkel van die vlakvark
spalk; die vlak se vlees met skimmel heel;
brood breek met die wyfiewolf, wat óók
'n kleintje het; die skerpioen verander
in 'n vriend; die ore van die jakkals streel.

Aan hierdie dinge dink sy op 'n môre

terwyl sy die skroefbasille doodkook,
die dooie vlieë wegvee, die kalanders
sif uit die meel.

Wednesday, 7 December 2016

Migraine
Martina Klopper


My stuitjie lê styf
in sy stert opgekrul,
sy koue lyf ril
in my ruggraat op —
skiélik lig hy sy kop.

Sy plat oop nek
swel om my brein,
sy tong sís in my keel.
Hy haak sy tande
deur my oë en pík —
ek kots van sy gif,
kobra in my murg.

Tuesday, 6 December 2016

Elisabeth
Lina Spies

The eyes of others our prisons;
their thoughts our cages.
Virginia Woolf: "An Unwritten Novel"


Terwyl ek na jou kyk
— die stofblad te fel groen,
die uitgewer se naam voorbarig swart vermeld
teen joue wat jy liefs verswyg sou hê —
is ek meteens vir oudword nie meer bang,
want waar die kleur vervloei tot JY
is alles sag soos webbe onder water roer.

Weg die vroeëre knoetsige verset teen pyn
in elke onverbiddelike trek,
die oë se oopgesperde ontoeganklikheid.
Jy's weer die digteres van agtien jaar
wat sing van die nooi uit Nasaret
en onder jou vel lê die struktuur van been
soos van 'n meesterlike beitelaar.
Jy's weer die kind wat smal
in 'n doringboom se skaduwee kan pas.

Ek wat moet wortel en moet groei
en om te leef na bo moet reik
voordat ek losgemaak word om te swewe en te dryf —
wat sal ek vra vir jou
in die voorlaaste vryheid
van jou byna-woordeloosheid,
bevat in hierdie koel papier se stukkie skemerte
waaraan my onbeholpe vingers klou?

Dat in die helder tuin eendag
die onaanraakbare Tuinier
jou op 'n namelose naam sal roep

tot groen wat nooit verwelk.

Monday, 5 December 2016

Uit: Parte speel
Barend J. Toerien


Van kleins af altyd opstandig
met 'n kop van jou eie
het jy jou gang gegaan,
my laat bloos tot agter my ore
toe Juffrou my in onvoldoende kortbroek
onverwags vra om op te staan.

Eigenaardige appendant, oor jou aard
help dit nie om na te dink nie;
jy's oorgenoeg befreud, onbeskaamlike
onbetaamlike agterstevoor stert;
dog vir soveel (gedeelde) ekstase sê ek: dankie.
Vleeslus word alleen gestil deur die liggaamlike,
al was jou rondtastinge, keer op keer
nooit alleenlik na die lyflike:
daardie tergende wolkskadu Liefde
het jy sonder ophou na gebéúr
en jou kop aanhou bly stamp, rou en disnis;
en met wie en waar is nobody's business.

Saturday, 3 December 2016

Oulaas
Charles Fryer


Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan 'n handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd
altyd
'n bietjie gaan skuinslê.

Calvinia, 1970

Friday, 2 December 2016

wie is die stil kind
Gilbert Gibson


wie is die stil kind? die stil kind is 'n dwaling in die woestyn
wat is die woestyn? die woestyn is 'n ander weergawe van die see
waarvandaan kom die see? die see is van die toekoms vergeet
wat vergeet die toekoms? dit vergeet die wit van wolke
wat is die wit van wolke? die wit van wolke is sneeu vir voëls
waar is die voëls? die voëls vlieg oor die groot-karoo
wat is die groot-karoo? die groot-karoo is die ruis van vuur
waar is die ruis van vuur? die ruis van vuur is waar horisonne val
waar is die horison? die horison pas smal in die vuis
wat is die vuis? die vuis is 'n oop venster
wat maak 'n oop venster? 'n oop venster laat die reën binne
wat laat die reën binne? troos van hande laat die reën binne
wat is troos van hande? troos van hande besweer die angs
wat besweer die angs? die kwelling wind besweer die angs
wat is kwelling wind? die kwelling wind is stilte in die kind

Thursday, 1 December 2016

Afspraak
Lucas Malan


Die uurwerk het haar enkel taak
weer stip volbring. Op 'n wintersnag
om kwart oor tien, op die tweede vlak
aan 'n kade, het die klok gestaak.
Kort tevore het die laaste uur geslaan.
Terstond het die merels buite verstom,
lont geruik en vervaard uitgeflap 
na die Vondelpark. Daar, met krom
nek geboë in rougebaar, dryf nóg
so vorstelik, eenkant, 'n swaan.


Wednesday, 30 November 2016

ek berei 'n slaai voor die oë van my vader
Marlene van Niekerk


ek berei 'n slaai voor die oë van my vader watse blare
vra hy watse gras watse klein groen kiewiete
krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade
hy blaai deur die jare 'n wit servet om sy nek
en tree met adel kuite deur die toppe van wilde mosterd
waarin die blou kieriekoppe van tarentale roer
en die someravond bruin en soet op die stellasie sit
en die horlosiegras afdraai in die stof in hierdie kuil
van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande
sit die klein goue blaarvouer in die geul van die palmiet
te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes
maak my soet en hoor my lied laat hierdie groen kos,
geseënd wees aan ons gees my pa eet blare
my pa eet gras en praat in tale

Tuesday, 29 November 2016

metamorfose van die dorpstommerik
Linda Roos


P-P-Prometheus hang gekruisig aan sy vingertoppe
met derms teen die rots geverf en oë van 'n lam

die klipswaar vloeke van die dorpenaars
wat so sekuur ou rowe tref
het hom oor die ravynrand eindelik gedwing, 
met dik en stamelende tong en hande
wat afwerend wuif aan die dun lem van 'n lys
tot rus laat ruk

nog uit die kring van kranse swiep
hul oog en tong met kloue uitgestrek
tot dié dag dat die wolke skeur
en elke bloedkol vere kry en vlerk
die dun geraamte van die kuit
groei tot geskubde poot
gesperde oog kry dubbellid
die swaar tong punt 'n adellike boog
en krys uit nuwe keel 'n nuwe naam
wat op sy voorkop
al die tyd geskrywe staan

toe vlieg hy op in die arms van die son

Monday, 28 November 2016

Uitsig op die kade
Elisabeth Eybers


Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.

Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.

Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.

Sunday, 27 November 2016

Met die onsekerheid
George H. Weideman


Dán word jy die troebel beeld
wat huiwer op die horison:
die dadelboom en leiblou dam
wat soms 'n vae koelte bring
en dan weer: groen en eg, maar vér, wyd —
ver oor die rante hang die damperige kring
van droom en dynserige werklikheid.

Henkries, Desember 1965

Saturday, 26 November 2016

Uit: mix tape
Bibi Slippers


1. Klou

                    Porcupine-ology. Antler-ology. Car-ology. Bus-ology. Train-ology. Plane-ology.
               Mama-ology. Papa-ology. You-ology. Me-ology. Love-ology. Kiss-ology. Stay-ology.
                    Please-ology. Let's study class, let's study class. Sit down. —Regina Spektor


ek wil my hande om
'n kaktus of turksvy
vou 'n anemoon in my
mond hou ek wil jou
ek wil jou

ek wil in 'n doringboom
slaap met 'n ystervark
in my arms ek wil leer
hoe om jou hoe om jou

ek wil 'n professor word
in die wetenschap van stekels
ek wil jou doringappel
doringpeer stadig maar
sever afstomp seekastaiing

stekelrog dennenbos
ek wil jou ek wil jou
bot hê en onskerp
armadillo-akkedis

meidoding lavanaald
as dit onmoontlik is
sal ek wil sag raak
myself spons maak

sodat ek aan jou
aan jou kan klou
sonder gevaar
van 'n steekwond
deur die long

Uit: Nou en dan

XIII Arachne se leegte
T. T Cloete


Die spinnekop weef haar helder dun ligdraad
oor die leegte en in teen die donker wind.
Sy heg haar vastrapplek déúr die hiaat
in ʼn wyskundige reëlmatige weefsel en sy bind
haar patroon óm die openinge wat sy laat.


Friday, 25 November 2016

Die mens is metafoor en meer
D. J. Opperman


Ek is traktaatjie
goedkoop preek
vir slordige predikant

exempel, emblemata
altyd verwysing na

die geval en Anderkant

ek is geelwortel
'n jaar lank
oorgeslaan op die land

metafoor
klaar gekoppel, die 'soos'
van die vergelyking
reeds met die bymekaarkom
in mekaar gegly

die ekstase tot kriptiek

alles wat jy raak
word beeld, simbool:
skroewedraaier, geld
word wisselkoers
die mirakel 
van Armstrong op die maan: mistiek

van 'n Goddelike Komiek.

Thursday, 24 November 2016

daar waar jy woon, is baie lig
Petra Müller


nie in die stilte
met middernag
of by laaste gelui
sal ek jou soek nie

swael wat in die hoë koepel swenk

maar net voordat dit stil word
in die keerweer van die klepels
en voordat die spinet gaan staan

fladderende hart in 'n woud van klip
jy ruis in die triforium
en jou liggaampie snoer 'n ewigheid
tot jy die sonstroom tref

daar waar jy woon, is baie lig