Thursday, 2 January 2020

Vertoonkas
Johan Myburg


Sieraad van haar sitkamer was dié ligbruin
kas — terugskouend vermoed ek dit was fineer —
met geelkoperbeslag en twee panele glas
wat parallel in gleuwe heen en weer
kon skuif. Loop jy oor die bont tapyt begin
daarin 'n menagerie van porselein vibreer
op trillende vloerplanke; pronk 'n pou
pierewaaierend 'n ragfyn halfmaan veer;
skrik springbokkies en 'n haas van sjokolade
vir 'n maanhaar, 'n replika van 'n Landseer-
leeu dekades gestol in glas en wat nou onderlangs
begin te grom. Asof seismies gewek registreer
'n skoener, effe na agter, 'n teenwind in sy takel;
span onsigbare matrosies seile en laveer
die skippie terug oor ysige oseane; in die hande
van die klein kaptein sweerlik 'n narwalspeer.
Die seile sak tot halfmas, die pou vou sy trots
teleskopies terug, bokkies, haas én leeu kalmeer.
As natrilling ril ondervel, neffens rosies van marsepein, 
'n gevange eenhoring op 'n poskaart, gefrankeer,
maar nooit gestuur nie. In skemerte is ek jare gelede
in dié voorstedelike Wunderkammer ingesweer
as verkenner van negosie. Mettertyd sou ek
kuriositeite as versamel teen vergeet waardeer,
sjokolade marsepein glas papier porselein as
afstand van 'n verbeelde bestaan takseer.


Wednesday, 1 January 2020

Peinsende...
Pablo Neruda


Peinsende, terwyl ek skaduwees saamvleg in diepe eensaamheid.
Ook jy is ver weg, helaas, verder as wie ook al,
peinsende, terwyl jy voëls vrylaat, beelde laat verdwyn,
lampe begrawe.

Kloktoring van mis, hoe ver tog, daarbo!
Terwyl jy treursange versmoor, donker verwagtinge fyn maal,
swygsame meulenaar,
stort die nags blindelings op jou af, ver van die stad.

Jou teenwoordigheid is aan my vreemd, vir my sonderling soos 'n 
voorwerp.
Ek peins, terwyl ek 'n lang ent stap, oor my lewe voor jou.
My lewe voor enigiemand, my bitter lewe.
Die kreet voor die see, tussen die klippe,
soos jy vlug, vry, kranksinnig, in die newels van die see.
Toomloos, gewelddadig, uitgereik na die hemel.

Jy, vrou, wat was jy daar, watter speek, watter balein
van hierdie reusagtige waaier? Jy was ver soos nou.
Brand in die bos? Dit brand in blou kruise.
Dit brand, dit brand, dit vlam, dit vonk in die bome van lig.
Dit stort neer, dit knetter, brand. Brand.
En my siel dans gewond deur spaanders van vuur.
Wie roep? Watter stilte, bevolk deur watter eggo's?
Uur van heimwee, uur van vreugde, uur van eensaamheid,
uur wat myne was, onder al die ander!

Trompet deur wie die wind vaar singende.
So 'n passie vir trane vasgeknoop aan my liggaam.
Losgeskud van alle wortels,
aanval van al die golwe!
En my siel dwaal rond, droewig, eindeloos.
Peinsende, terwyl jy lampe begrawe in diep eensaamheid.
Wie is jy tog? Wie is jy?

Vertaal deur Uys Krige


Sunday, 1 December 2019

Duif
Johan Myburg


Sonder vlugopnemer en met g'n bestek, g'n aanduiding
van beplande aankoms of vertrek, lê die duif stokstyf onder
die linkerluik. Waar het hy fladderend opgevlieg: 'n boomtak,
'n grasperk? Was hy al goed op dreef, sierlik aan't mik
na 'n skreef tussen twee soliede mure, 'n poort na oop lug,
'n windbuksvrye oord waar slu huiskatte nie in tuine skuil 
nie, 'n deurgang na vrye en ononderbroke vlug?
In daardie laaste breukdeel van 'n flits, te laat om uit te swenk
of sy ewebeeld te ontduik, het hy vasgevlieg in 'n plaat vensterglas
en in skimmel, van toe oog tot bek tot pluim, 'n perfekte portret voltrek.


Saturday, 30 November 2019

net vir jou dié polsende somervrug in plas sap op bord
Breyten Breytenbach


om mango's van madagaskar
rooi oop
te slag en die waterige sonvlees
uit die taai vel
te knip,
te verorber met skerp lepeltjies
as die god die muwwe aardvrug
                                  seën
dit buite skelettige straaltjies
                                  reën

vergenog die kieste en
maak die maag somer a

bedank my bruid van laasnag, maar
veel vollediger nog: as jy
heerlik hier op die bultende bed
saam met my
smul jy
met die voëltjiehande en goeie god
jou oë 2 buikige sonvisse in 'n waterbak

maak dit my hart so
soet o
soos 'n mango uit madagaskar


Tuesday, 12 November 2019

Nagwaak
Johan Myburg


Ek gaan slaap, word nanag wakker met 'n bejaarde oor
veel ouer as my gesig. 'n Behaarde skulp soos 'n koolblaar
sprei oor die sloop. Dié oor hoor in 'n ander register, ander goed
as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in 'n sleutelgat
die knip van 'n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbraak
en betreding — dis nie die trilling van stewel in stiebeuel
van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril
nie — die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese
wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:
om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.
Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip
die vasdraai doe pad wat eindig in 'n slop.


Monday, 11 November 2019

Die antwoord
Uys Krige


Wat roep die meeu
teen die blou
van die lug,
teen die wit 
van die wolk,
teen die grys
van die berg,
bo die grou
van die duin,
die skulpwit
van die strand
en die skuim
van die see?

Tussen die lug
en die land,
tussen die berg
en die baai,
groen golf
en groen golf
roep hy
en die wind roep mee
en dis ook die roep van die see
en die roep van die hart,
verlate, verward:

Wee, o, wee,
sonder rus, sonder vree
die trotse hart
ondanks sy smart
verhewe
in sy strewe
bo die lewe
— bo die gebrek en die nood
aan die skamele brood,
bo die swoeg en die sweet
en die nood en die leed
van die bittere stryd
om menswaardigheid.
Nee, nee,
nooit sal hy in kan tree
tot die geseënde stee
van 'n volle lewe
sonder vrees, sonder bewe.
Nee, nee,
nooit word hom rus gegewe,
steeds word hy in homself gedrewe,
nooit word hy van dié straf onthewe,
want hy's verdeel, verdeel!
geskei van die geheel,
met die maat verloor,
die ritme verstoor...

Nee! Nee!
Nooit word hom die geluk beskoor,
geen blydskap hoe gering
om van te sing,
geen vrugbaarheid
of seën op sy stryd,
geen sterlig op sy donker baan,
geen vaste plek om op te staan
altyd, altyd,
van nou af aan,
van nou af aan
tot in die ewigheid.


Sunday, 10 November 2019

Die seemeeu
Uys Krige


Tussen die wit huis 
en die wit huis, 
teen die wit wolk,
teen die grys berg
hoog bo die see
silwer en grys
silwer en grys
van golwe aaneen
tot die verste vaal
horisonne heen,
styg en daal,
styg en daal
die wit seemeeu
aaneen
alleen...

Wat sing die see?
Wat kla die wind?
Wat roep die meeu?
Wat snik die hart
aaneen
alleen?

Die see sing,
die wind kla,
die meeu roep,
die hart snik
tussen die wit huis

en die wit huis
op die helder dag
silwer en grys,
silwer en grys;
waarheen?
waarheen
aaneen
alleen, alleen, alleen?