Monday, 4 March 2019

"Waar Tebes in die stil woestyn"
Eugène N. Marais


Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef
En Mara in die sand verdwyn;

Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend' hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;

Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal,
En grootwild om die syferkuil
As skadu's in 'n stofwolf maal;

En huiswaarts brommend sluip die tier,
Sy donker moordplek pas verlaat,
Wanneer die eerste grou lumier
Met slepend' mis die veld beslaat.

O land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van u hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.

Sou ek een guns nog hier verdien,
— Nog een gebed omhoog verhoord —
Geen mensepraal sou ek wou sien,
Die glorie van geen vreemde oord.
My bede sou net dit verkry: —
Laat weer U eensaamheid my daar
Vir laas met roerend' mag berei
U groter stilte te aanvaar.

Laat uitlok deur geen suil of steen
'n Enkel sug of woord van haat;
Met al U vrede om my heen
Sal nagt'liks uit die hemelstraat
Sag neerskyn op my laaste huis
Die vonkelend' sterrebeeld van U kruis.

Elk' ydel vrees sal daar verdwyn;
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef.


Sunday, 3 March 2019

kringloop
Marlise Joubert


sy het nie aan 'n sluipende dood gedink
toe sy haar kinders grootgemaak het nie
die dood was ver soos sluiers reën

met soms 'n rammeling en spataarflits
agter die horison van 'n volgende eeu
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

want daar was telge om te voed
die vrede was groen, die huis 'n troos
die dood was ver soos sluiers reën

daar was 'n stoet van grootouers
daar was ma en pa, 'n oom en niggie
sy het nie aan die sluipende dood gedink nie

toe het almal in 'n marmerwolk
verdwyn, maar sy het reeds vermoed
die dood was ver soos sluiers reën

weerlig begin 'n langarmdans, rammel
net duskant haar huis en verlig haar vrees:
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

die dood was ver soos sluiers reën


Sunday, 24 February 2019

Exit Octopus vulgaris
Marlene van Niekerk


Die digter, oorgevoelige wese, kan gerus 'n voorbeeld neem
aan wat die seekat moet versin deur haar gebrek aan skulp:
verdeel die hart betyds in drie, die brein in nege dele,
splyt die voet in twee kwatryne, vir Worcester vier,
die origes vir Wellington, tatoeëer die kripsiskunde
in al die lae van die vel, skurf soos klippe in die Pakhuisberg,
glad soos Stilbaaiwier, ossileer soms as korbeelhuis
uit die rococo in pruimepienk koraal, bluf jou smart 
met stekelsteunpilare uit 'n middelgoties katedraal,
maak die aardkloot tot jou oester, jou bedstee
uit 'n kokosneut, berei in nood jou ligspigot
teen die inval van die Kaapse aal, die naywerige
snotglad rob, hersien die pomp, vul die swart foedraal,
trek die binneborstrok haaks, mik jou gulste waterstraal,
en vuur — psiempsoem! — 'n heksepluim van drukkersink,
vlug kop eerste in die wolke der onwetenheid,
al jou sinne in een kraal.


Tuesday, 19 February 2019

Aan 'n verdrinkte
Petra Müller


Ek sal jou in my bly behou, verby verdriet,
verby berou, tot in die nag se winterblou verduistering;
die poel waarin die visse spring, is webbe van herinnering
waarin ek nette vir jou bring. Met elke oggend se gety
spoel jy opnuut by my verby, en bly jy deur my vingers gly,
en tog sal ek jou bly behou solank die see
my in sy branding hou. Dié see,
wat daagliks uitwis wat die nag wou skryf, sal jou
in vlugpatrone opdryf op die kus waar ek, 'n kind
wat stadig aanleer om te spel,
jou uit die veegseltjies herstel.
Daar lê 'n leeftyd voor
om klaar te plet aan hierdie
oggend-alfabet.


Thursday, 3 January 2019

nagpsalm
Marlene van Niekerk


dis 'n ou klavier wat die nag verklaar
dis 'n klawerbord
by die voete van dinge

by die voete van lamppale
by die vrank voete van die olyfbome
dis metronome
by die soeter voete van die suurlemoenboord
in die vlei se voet van water
onder om die riete
om die voete van die lelies
dis 'n ou klavier
miskien is dit 'n weefstoel
dis die weefstoel se klikkende pedale
of smidsgetinkel
onder in die molm van die nag
of 'n naaimasjien met 'n klopvoet
wat zik-zik binne-in die kuil
dis skelm jazz op klepels
dis om die voet van elke halm
minus melodie
sonder kadans
dis 'n ou klavier
dis 'n ou klavier
dis 'n spikkeling onder die voetsool
dit galm
om die voet van die laventel
dis voetlepels
dis voetmusiek
van kikkers en van krieke
dis hulle wat so dingel wat so dienk
aanhoudend in die elm van die gras
hierby hum ek
hierby  strum ek
hierby swingel ek
my nagpsalm.

Wednesday, 2 January 2019

Die ewigheid
Charl-Pierre Naudé


Van al die wêreld se begrippe
is daar slegs een wat afsluit, naamlik
die ewigheid. Helaas, sonder afloop.
Moet ek dit nog sê,
dat ek dié gedig in 'n tydlose plek
uitgedink het maar oplaas
nie tyd gehad het om dit te skryf nie.
Ek moes vertrek — inderhaas — en kom
nou eers daarby uit, in die verbygaan.
Shakespeare het self oor die ewigheid geskryf,
op sy knie, terwyl hy wag vir die akteurs om op te daag.
Absurd, dat iets so groot en omvattend
ingepas moet word, tussen nietigheid.
'n Bietjie soos om die knoffel met wildsvleis te stop.
Soos om 'n Boeing per lugpos te stuur, 
"spoed" groot op die koevert geskryf.
Die Moeder, in die nissie van 'n kind se hande.
"Ware liefde is vir ewig," het sy oor die foon gesê.
En dis toe dat die onderwerp hom voordoen.
Ons was al geruime tyd uit.
'n Mooi liefde maar verby — geruime tyd.
Ek het juis weggegaan om my te onttrek, eens en vir altyd.
En dis daar wat ek toe die glimp kry, van die ewigheid.
Ironies, om die ewigheid in 'n glimp te sien.
In daardie halfwoestyngeweste is 'n pragtige struik
wat ondergronds in sy bol bly om slegs te bloei
in 'n waaier van stywe lote en peulblomme
— soos die eerste oop hand met helderpienk vingernaels —
een maal 'n jaar, miskien elke tweede jaar
vir slegs een dag. 'n Enkele dag. Vir ewig, so voort.
En selde weer op dieselfde plek.
Daardie plant is miljoene jare oud.
Dís mos nou die ewigheid. "Is jy nog daar?"
"Ja," antwoord ek haar,
daardie dag oor die foon,
vir ewig en altyd."


Tuesday, 1 January 2019

Oggend van 'n waterfiskaal
Marlene van Niekerk

       (Uit die Cederbergsuite)


Allagot! geglip uit die knukkels
van hierdie kant se koskans- en hansmaker
wip die waterfiskaal die oggendkier in,
kaneeeeeel van verbasing op sy bors,
onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle
spiksplinterspuwende Dwarsriviersand,
tinktuuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke,
strak in die frak, die keil platgekam,
akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! —
triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel,
hokaai kohorte kansvatters
wat hy konter met pronkstand akimbo,
knipstert na die kindlig in die oewerkrui,
en wegstaan, kyk so, eeeeene Ollewagen-onderbaadjie,
hy is die een en innigste godontglipper
hier in die prilwilde hoogmakerson,
!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek
soos 'n klok in die bergkut, ketoooools
van die mondsagte môre.