Sunday, 25 June 2017

convivium
Antjie Krog


5.
die universum word anders ontkurk sê jy     as bloot deur
oorlewingsgeweld     kyk hoe halshemeld vanoggend 
die uithaal van lig oor die Mooiberge     die liriese teloorgang
die oorskulp-hartbreekliturgie van die herfs     mens hurk verwonderd

hierin                    want welgeluksalig is ons
dat hierdie smal benerige erfsterflike liggaam
soveel oorvloed kan stemvurk

Saturday, 24 June 2017

convivium
Antjie Krog


4.
my liggaam walm die pokdalige Mercurius na
— die lugloosheid en verbedde ysterkern

my liggaam weer die sonwind van Venus     die inferno
daarvan     die oranje vretende asuurblou swaelsuur
om stipstadig anderkant-toe-om te draai

my gewrig tik die Aarde omhoog — ons waterplaneet
kastyblou bonsend onder ligte vingerafdrukke van wasem

my liggaam ploeg stofstorms uit Mars — oker
ysslibbende sulfurbedekte woestynplaneet en begin
die vriesgevange blondbaardige twee maantjies meet

dit is my liggaam wat die enormiteit van Jupiter
op sleeptou vat: die virulente spoed     die sirkulerende

boos-rooi sweer     die tros mane     in romerige bane
rokende kronkelbeninge patrone en metaal tinte
kan sy driekwart van die sonnestelsel in haar liggaam pak

slegs deur my liggaam kan ek die vriesende beeldskone Saturnus
bemin — die stil geel lig     die liefkosende gevangenisskap van ringe

die ruimtes tussen die ringe     die hartnaas gladheid
die uitgelate grootsheid van perfekte vorm     die lieflike
kanteling van lyf — so lig is jy Saturnus     jy kan op water dryf

my liggaam staar oogvingerend na die pêreloog van Uranus
op haar sy geval     gevallene     metaan-swaar verhemelte

my liggaam sink met die onweersblou donker Uranus mee
mompelend mergelend onder gas-oseane     outisties     nors
deurvries van oordaad windstortings     traag     obseen


Friday, 23 June 2017

convivium
Antjie Krog


3. (HH 212*) Simmetrie


aanvanklik besef jy nie die skyfvormige wolk se magsvermeerderingsug
   wat gasfonteine in teenoorgestelde rigtings vuur nie —
      hulle pols glimmend salfagtige strale wat
         semi-minsaam ontwrig en lig-lig bots
            hits mekaar aan tot sigbaarheid: kyk terug hoe vanuit
               haar uitklowende elmboë, die ster nou simmetries begin snoer
                  na albei kante toe aan 'n uitgeskropte skroei-wit werweltjie lig.
                  na albei kante toe aan 'n uitgeskropte skroei-wit werweltjie lig.
               haar uitklowende elmboë, die ster nou simmetries begin snoer
            hits mekaar aan tot sigbaarheid: kyk terug hoe vanuit
         semi-minsaam ontwrig en lig-lig bots
      hulle pols glimmend salfagtige strale wat
   gasfonteine in teenoorgestelde rigtings vuur nie —
aanvanklik besef jy nie die skyfvormige wolk se magsvermeerderingsug



*Die geboorte van 'n tweelingster is ontdek deur die Berlynse astronoom Hans Zinnecker.
HH2!2 word simmetries uitgepomp deur 'n onsigbare protoster naby die Perdekopnewel in die Orionkonstellasie. Die gedig is geskryf in samewerking met Zinnecker as deel van 'n projek van die Calouste Gulbenkian Foundation.



Thursday, 22 June 2017

convivium
Antjie Krog


2.
maar staafspirale bestaan sê jy
die lieflike vere-rige slanke spiraalarms van ons sterrestelsel bestaan

in 'n dromende ballet sê jy     van waas en wentelbaan
en die stadig-polsende lewensloop van sterre     suurstof

en kwasars     newelagtige baarmoeders en ontsaglike lig
aan die buitewyke van die heelal sê jy     die melkweg neurie

daar's rustig silwersuiwerende wentelbane     die beminning
van mane    getye    liglyne en ewigdurende ewewig     dit alles

bestaan sê jy: is dit nie juis die sterre as 'n oordaad priemsels op
'n stil someraand wat ons in wentelbane van uitreiking hou nie?

elke keer as ons in oorgawe na mekaar toe draai
doen ons dit onder 'n druisende baldakyn van sterre

    

Wednesday, 21 June 2017

convivium
Antjie Krog


1.
waarom talm my kneukels so teer teen jou wang? waarom
sal ek my haas as ek hoor jy is honger of selfmoordbang as
die uitspansel gans uitmekaar skiet soos iets in woede gesmyt?

watter sin maak jou te-berde-gebringde somerwang
as swaartekrag ysklippers tot stofkrabbers gruis as 
botsings puin nalaat en nuwe venynige kraakwarm knerpe?

waarom sal ek omgee dat jy tot diep in jou wangholtes huil as
ons omring staan van blitsende helium     verassende sonwind wat
mane verslind    fyner sterre opskeur    oppervlaktes verbrysel?

o agtergelate nikshoudende putte van duisternis
o gate van verniksing waar net geweld standhou

watter nut het die liginnemendheid van jou wangkurwe teen
gravitasiekolke waar supernovas so oppergewelddadig in-
eenstort                 dat nie eens flodseltjies lig ontsnap nie?

wat baat my koestering in the asembeaarde nag as 'n middel-
puntlose heelal ruimte in die onbestaande maak sodat donker
materies 'n paar fragmentariese ligstelselkraaltjies oorweldig

o gate waar nikshoudende geweld standhou
o agtergelate putte van verduistenis en niksing        

Tuesday, 20 June 2017

Opsolder
Petra Müller


Die ganse solder was appelgeurend – van die klein verskrompeldes
met die taai skil – die rooies. En die slope vol fisantvere.
(My pa was 'n jagter, April was sy maand.) O,
daar was sloepe vol lewe, wat uit vleie 
gedraf het, op oranje beentjies,
die appelboord in, 
met kort vlugte óp.
Daar was geen verbod nie. Ons mog daar opklim
en die hele middag omdroom tussen appels en vere
en ander prik-prik geure losgebak
deur die son op warm sink.
Daar was soveel ingehoue glans daar, en stof,
en skrik-van-die-blink-middag buite, en nóg
stof. Want stof is onverganglik,
waar dit skuins hang in die ligstroom
uit die skroefgat in die dak.