Sunday, 11 February 2018

Biologieklas
Marthé Mc Loud


Kinderstemme tjirp-tjirp
soos die fles van skoolbank
tot skoolbank opgetel en
bekyk word.

Die kind se oë span styf. 
Sy ruk, laat van die bottel
met die aangeeslag.
Die klas lag.

Die klaskamer begin om haar
te dobber en dryf
soos die opgekrulde slang wegrol
van haar onderlyf.

Die reptiel se tong flits
in-uit: sjuut
dit is ons geheim net
ons geheim net ons


Saturday, 10 February 2018

Vakansiebrief
D. J Opperman


Voor my in 'n mispel kras
drie kraaie; my dae verdwyn
in stiltes soos kwartels in lang gras.

Vanoggend toe ek erdwurms soek, 
raak ek oor 'n fossiel verstrooid
soos oor 'n bladsy uit 'n muf dagboek.

'n Ou meid lê langs haar skerm, die wange
weggesak, haar oë reën en sand 
in holtes van 'n maalklip opgevang.

Die berg se donker lies, vars spore
van die likkewaan en kuttels van 'n bok
roer iets in my van lank tevore;

maar die tarentaal sit stom
op haar nes vol eiers — my hart broei
oor die stad: glas, sink, beton.


Friday, 9 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Maandag 18 Desember


oom jeff met tattoos op sy arms
het krismispresente gebring
van durban af waar hy bly

sy vrou is lankal dood
en sy kinders is groot
hy het sy eie huis met
'n goeie werk, sê ma
'n welder soos pa
en hy sal goed sorg

ma kap 'n bordjie in
op die pavement 
voor die huis
for sale


Thursday, 8 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Dinsdag 12 September


dit het vandag gereën daar is rysmiere
wat ek kan vang onder die straatlig
met ma se meelsif

ek sit hulle in 'n canfruit-bottel
waar hulle tjirr-tjirr teen die glas
andries vra wat maak ek
met 'n bottel vol en dit stink

ek sê dis vir pa vir visvang
by hartebeespoortdam
en andries sê maar...

toe onthou ek en
maak die bottel oop
'n paar vlieg op maar
meeste val net op die grond


Wednesday, 7 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Sondag 3 September


antie hester het 'n broek en
'n hemp en skoene gebring
van haar suster se kind wat
te klein is vir hom 

sy en ma sê dis hoog tyd dat ek
sondagskool toe gaan
die hemp is wit en die broek is te kort
en die skoene maak my seer

ma gee my twintig sent en
'n bybel met 'n foto in van pa
sonder 'n hemp met 'n vet baber
in sy hande by hartebeespoortdam

voor die kerk staan die dominee
met die blink kop en sy 
oë wat swart vir mense kyk
as hy hulle hande skud

in my sak is twee tiensente
dis 'n coke en vyf toffies en twee
games pinball by costa se kafee 
en ek draai om


Tuesday, 6 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Woensdag 19 Julie


ons word wakker
ek en henry in die donker
van ma wat hardloop en 
skree in die gang
in haar shorty pajamas
uit by die hek en
oor die straat

antie rosie en violet probeer om
pa te help, sy gesig is wit en
sy voete skop en iemand skree
waar's die dokter het jy gebel

die ambulans maak rooi ligte in
die huis en rooi gesigte in die straat
en hulle stoot pa
op 'n wit trollie uit

oom nel vat ma met sy kar maar 
hulle kom terug en ma sê
pa is weg sonder koebaai

ek mis skool en andries sê
daar was 'n puppet show
in die saal


Monday, 5 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Sondag 4 Junie


ek en ma en henry ry in
ma se blou mini en gaan
kuier weer vir pa in
die plek in johannesburg

hy moet 'n maand daar bly
want die myn het hom gestuuur
en henry sê as pa weer soos
laas wegloop fire hulle hom

daar's net mans, party sit op
stoele en praat en party loop
stil in die tuin in
wit pajamas met rooi strepe

pa het 'n mandljie en 'n
skinkbord uit rottang
met sy hande gemaak en hy
gee dit vir ma toe ons moet ry

ma sê pa is nou amper gesond
maar henry sê sy lieg, want oom
flip drink nog altyd en
hy was al drie keer daar