Sunday, 4 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Woensdag 5 April


Willem sê ek moet kom kyk
op die koelieskool se veld
staan 'n groot sirkustent met
leeus en olifante en 'n
tiekieclown en as ons help
kan ons verniet gaan kyk

die tent is wit en rooi en geel
ons klim deur die draad en willem
praat met die man met die pens
en sê ons wil help en verniet kyk
maar hy jaag ons voetsek fokkof weg

ons hol verby 'n caravan
met 'n oop deur
willem stop en wys
ek sien rooi lippe en ronde tieties
groter as willem se sussie s'n
agter die garage


Saturday, 3 February 2018

uit die reeks 1967
Hannes Visser

Donderdag 5 Januarie


pa kap 'n bordjie in 
op die pavement
voor die huis
for sale

antie rosie van oorkant
bel ma by die werk
jy moet kom, piet verkoop jou huis

pa sê hy koop 'n plaas met perde
ma sê jy's mal
welders op die myn
koop nie plase en perde nie

pa sê fokkof ek weet
toe kom die dokter met 'n
swart tas in 'n swart ford

oom swanepoel bring die
dominee met blink kop
hy bid vir pa se drink en sy suiker

fokkof skree pa los my uit
ma huil en antie rosie gee vir my
rooi kool-aid en blinkpapierbiscuits
toe almal loop


Friday, 2 February 2018

Ma se vingers
Anton Döckel


My ma op tagtig
laat my haar hande streel
— die vel is nou net handskoen vir die been —
en die lyne op haar palm
se fortuin aanstons volbring.

Die ringvingers wil nie meer reguit nie
bly gehurk en knielend voor
die noodlotslyn.
As ek in 'n ongeluk moet sterf, spot Ma,
sal jy my aan my vingers ken.

Ek onthou hulle rats, behendig

aan't stiggies inlê en sokkies stop,

perskes bottel om winter in te kleur
toe sy nog 'n koppie 
kon vashou aan sy oor.

Steurend in die oomblik
kom 'n verdraaide strofe lag:
met die vervormde litte
is nooit weer mooi te skryf nie
met die onvervormde wek.
Vra Ma: Van watter Louws was hy?


Thursday, 1 February 2018

Kriptomnesie
Johann de Lange


I
Het ek jou meteens ont-
hou, of uitgedink?
Is jy die wakker vont
self, of net 'n krink
in my natuur
wat, hoe stipter ek staar,
hoe dieper ek tuur
in 'n oogwink
onkeerbaar weg
sal slink, 'n skyngeveg
met die muse
of skikgodin? Medusa
dalk? Nee: wat ek so vas
gehad het, so glas-
helder, polter blitsig weg.

II
: en dan blitsnel
die wit boom 
teen die swart lug.

Sy wit skadu
ets die nagvlug
van 'n uil,

laat knal
die skielike swael
van 'n geel bokoog.


Wednesday, 31 January 2018

moksha/vrywording
Angie Gallagher


die rammelende cumulus wat om my bene brom
is hoek-ore en skrewe-oë en snorbaarde, die wolkalbas
ook 'n lotus — my kat is 'n volslae boeddhis:

'n toegewyde hedonis wat krap om krap's omwil
domme graffito, dwase outeur; in die huisraad is
epitawe gegrif: erfstukke is mot en roet s'n

nog meer: 'n opperste opportunis — geen oppervlak
is heilig nie, my kat verpoos volstrek waar sy wil rus
om gesprei en mantelrig gedrapeer oor nirvana te mediteer


Wednesday, 3 January 2018

Laaste lied vir Orkenise
Erentia Bedeker


Sing vir my jy wat die son in jou keel dra
jy met die poorte en trompette
sing vir my as die nag knarsend onder jou voete breek
jy wat slagoffers lok met vernikkelde harte.
Sing vir my jy wat die uiteindes en
uiteindelikhede van man en vrou ken
sing van die swerwer wat sy hart op die stadsplein los
van die ploegman wat syne by die mark verpand.
Sing vir my as die hekke langsaam toegaan
en ek die maan se swart tjalie omhang
jou naam 'n sinnaberstreep op my huid.
Sing vir my sodat ek weer die vallei van kameeldorings kan vind
waar ape grafte grawe en waghou teen roofdiere
daar waar ek teen skemer jou stem
met die laaste skep grond kan
toegooi.


Tuesday, 2 January 2018

Hart van Orkenise
Erentia Bedeker

Na aanleiding van "Oneirocriticism" deur Guillaume Apollinaire, met apologie


Die kole van die nag was so naby
ek was bang vir brand.
Die wurgvy het die prieel berank, 'n
swanger maan aan sy tak gehaak.
Die witwanguil se keel het ontvlam en
die wêreld het gebloei soos 'n maartlelie.

Ek was onkundig oor die uiteindes
van 'n man, uiteindes
van 'n vrou, uiteindelikhede
en uiterstes van ledemate
agter die fantoompyne
van begeerte.

Gedagteloos onder 'n afdak
sluk ek die geelbruin kuddes
van die najaar en vryf
jou hersenskim
uit my oë.

Orkenise verskyn op die einder.
Gestaag galop ons die stad tegemoet —
die gedruis in die poorte, die vlag
die trompet in die toring —
traag om die vallei waar kameeldorings
fluit, te verlaat.

Maar die lied van die saailande was manjifiek.