Sunday, 28 May 2017

XXXVIII Ars poetica
N. P. van Wyk Louw

     Vir Wytze


Uit die gevormde literatuur
is nooit weer poësie te maak nie,
uit die ongevormde wél:
heuning uit die blomsap
— om te illustreer —
en uit die heuning self, glo nog;
maar nie meer uit die seshoek-sel.

Op die temas van die dwase,
en van die nie-dwaas heiliges
is dit moontlik om variasies
en besuinigings, selfs palinodes
te versin, maar dis onmoontlik
om te speel-selfs met die spél:
of groot te doen of te misdoen
in die skoene van die grotes.

Eintlik was 'n fluit nodig,
wat, terwyl jy blaas: trompet word;
en ná trompet: 'n stad;
én, waar die stád verwilder:
dat dit bloeiende maankraters
word wat uitblom in
bloed en vuurpyl
en afgly na die suiwer syfer
en die beginnende uitsypeling
en die begin.

Maar: omdat geen fluit voorhande is nie
moet ons in die weefsels van
(o) van ons dink-histologie
soek: om lug en kraakbeen,
brein-sel, vleis en slymvlies
sonder slymerigheig van ons histories-
en geweefde denke te bespie;
sódat en ópdat ons in woorde, wat
maar klank en teken is,
in ná-geskape skeppinge
die skepping van die god
déúr-dink, déúr-praat.


Wednesday, 24 May 2017

Pleidooi om bevryding
Antjie Krog


my poësie blink soos ’n voormalige hoer
langs die slimline mannekyne uit Palinodes

maar dit terloops
sal vryheid en broederskap my eindelik weerhou om
langreëlig jags te wees met ’n man

se reuk oorstuur mag te verander van boog
na teer gebenedyde heup nie met uitgesponne

vokale die nuwe somer naby te probeer skryf maar een
kortgebakerde stem een mens te sê wat ek liefhet ombies

in die kleur van salm en swart metaal – jambies
mekaar tersluiks nie los te laat voormalige varkentjies

wars dog tandeloos nie verdrietig oor lyne van stryd
bly vilt in saffraan – net in die demokratiese

enjambement kan die hart losweek.  ag
beminde agter al die woorde kyk hoe

wanhopig ek om bevryding veg soveel
lettergrepe smyt ek dig as om eenkeer

dit nooit te besef nie. (ek voel hoe hy my
ontsink en ry by die voorstedelike vers verby

waarin jy, bogher die stryd, nou kwistig
met iemand anders aard.)

op ’n dag voel my man ek verdien
wel ’n groter boekrak van melamine

digbundels voorheen emosioneel
gerangskik, nou alfabeties bevel

hy. D.P.M. Botes se Wat is ’n gewone man?
goddank neem die poësie met Boerneef ’n aanvang

yskoud sien ek Cloete staan knus
teen ons enigste terroris!

rats onalfabeties en mauve bou Stephan Bouwer
met private dele tussen die twee ’n buffer

Cussons stapel op soos snye brood
(langer kan ek haar nie koop)

toe: die beheersde Eybers my classy heldin
wat die wrangste gebied met die kilste woorde in

Jonker en Krog dans hand in die sy – snotneuse
begin by ons lees op pad na Louw in die volgende ry!

stug en sterk hou Manne in die kosmos kerk
verby M tot waar Komas, groot opgewerk

sonder Ziervogel te sê
teen losbandige Stet moet lepellê

bitter smaal Smal smaller smal Spies
langs hulle staan later Stockenström in Grieks

Watermeyer kon sekel sny in die hoogste klas
maar verkies om die “volk” vir Volkskas op simbaal te pas

My oog val op die vergeter stapeltjie Hambidge…
so kom woon Eybers en my – die nouveau riche



Wednesday, 29 March 2017

Delft
Nathan Trantraal


Die klippe innie pad
sit soes laities oppie sypaadjie
en vra die heeltyd vi jou virre rand.
Die wind kom en gan
soese man wattie oo sy laities worry nie
'n wind wat net vi homself liewe.
Die lug se mon stink na wyn.
Die son wêk nine to five
omdat dai is wat hy doen.
Hyt nog nooit consider
dat hy iets annes kan doen nie.
Die boeme hang heeldag oo hulle mierjies
en hou anne mense se biesagheid dop.
Die sand het vyl voete en lang naels, 
maarie sand loep van dee tot dee
en sit in ammel se hyse.
Die mense is cigarette-toppatjies
opgestop in metjieboksies.

Friday, 27 January 2017

Verborge-één
Totius


Die sprokie is aan my vertel:
wanneer die druiwetros weer swel
onder die donker wingerdblad,
dat dan die fyne wyn ook roer
in ver verborge keldervat.

'n Fyn mistieke eenheidsband
verbind Oranje, Nederland
en Afrika, deur alles heen.
Hoe ver die golwe ons al omspoel,
die diepe hart sal altyd voel —
ons is verborge-een.

Tuesday, 24 January 2017

Die laaisel van die sonbesie
George Weideman


O gomgomgai! loep die voël wat die bont eiels lê
Sonbesie, wat het jy vil my te sê?

Sonop leeds het jy jou vlymfluit
in die vaalgloen melkbos opgehang
Jou klank het klag man — my ole tuit
Na wie is dit wat jy velang?

O ek sien, jy's die son se stlaal
soms in bos of boompie vasgevang

Sonbesie, wat stolie jy vil my?
Êtse man, hou op met sklee!

Ek hensop maal, laat staan nog stly
— God het jou 'n sekelstem gegee!

Monday, 23 January 2017

Elegie
Wilhelm Knobel

Vir V. Cuenod


Êrens in die Atlantiese oseaan is jou liggaam ter see gelaat
In geen benouende seil gewikkel nie
het dit stadig deur die skemergroen lig gesak
tussen kleurige tropiese vissies wat vir 'n oomblik
      verskrik is
om dan weer soos mossies nuuskierig byeen te drom
en die vreemde gebeure gretig maar geheim in die
      roering te bespreek
'n besorgde dolfyn
het jou 'n rukkie meer waardig op jou tog vergesel
jou ledemate wat net effens
in suggestie van 'n dans beweeg
het hom 'n tydjie laat vermoed dat jy leef
en jou hare wat jy kort geknip gedra het in jou lewe
het lank en donker in die stroom geroer
Êrens op jou reis die diepte in
waar die skemerte oorgaan in donker
het die vae gestalte van 'n haai
(of twee?)
geduldig, genadig
gewag
...die beelde hier word minder duidelik
maar in drome sien ek reeds hoe 'n hopie bene
ewig en wit begin vasgroei in koraal

Sunday, 22 January 2017

Draaikewers
D. J. Opperman


Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en soet betowering

van ek en jy, van ek en jy?
Dit kring om jou, dit kring om my

voortvlugtend in 'n fyn aanvoel
van wisselende drif en doel.

O ek en jy! O ek en...skielik
uit mekaar verskrik...

O waar is jy? O waar is jy?
Dit kring om jou, dit kring om my,

met kring en teenkring mettertyd
tot 'n verwikkelde onenigheid.

O sal dit ooit 'n einde kry:
Die kring om jou, die kring om my

oor wye vlakke van die tyd
in malende eentonigheid?

Met duld en ongeduld en óm en óm
sal daar 'n rus ooit uit die onrus kom?

Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en brak verbittering

van ek en jy, van ek...skielik
uit mekaar verskrik...

O waar is jy? O waar is jy?
Dit kring om jou, dit kring om my,

en kringend gaan om jou en my
die tyd verby, die tyd verby.