Wednesday, 24 May 2017

Pleidooi om bevryding
Antjie Krog


my poësie blink soos ’n voormalige hoer
langs die slimline mannekyne uit Palinodes

maar dit terloops
sal vryheid en broederskap my eindelik weerhou om
langreëlig jags te wees met ’n man

se reuk oorstuur mag te verander van boog
na teer gebenedyde heup nie met uitgesponne

vokale die nuwe somer naby te probeer skryf maar een
kortgebakerde stem een mens te sê wat ek liefhet ombies

in die kleur van salm en swart metaal – jambies
mekaar tersluiks nie los te laat voormalige varkentjies

wars dog tandeloos nie verdrietig oor lyne van stryd
bly vilt in saffraan – net in die demokratiese

enjambement kan die hart losweek.  ag
beminde agter al die woorde kyk hoe

wanhopig ek om bevryding veg soveel
lettergrepe smyt ek dig as om eenkeer

dit nooit te besef nie. (ek voel hoe hy my
ontsink en ry by die voorstedelike vers verby

waarin jy, bogher die stryd, nou kwistig
met iemand anders aard.)

op ’n dag voel my man ek verdien
wel ’n groter boekrak van melamine

digbundels voorheen emosioneel
gerangskik, nou alfabeties bevel

hy. D.P.M. Botes se Wat is ’n gewone man?
goddank neem die poësie met Boerneef ’n aanvang

yskoud sien ek Cloete staan knus
teen ons enigste terroris!

rats onalfabeties en mauve bou Stephan Bouwer
met private dele tussen die twee ’n buffer

Cussons stapel op soos snye brood
(langer kan ek haar nie koop)

toe: die beheersde Eybers my classy heldin
wat die wrangste gebied met die kilste woorde in

Jonker en Krog dans hand in die sy – snotneuse
begin by ons lees op pad na Louw in die volgende ry!

stug en sterk hou Manne in die kosmos kerk
verby M tot waar Komas, groot opgewerk

sonder Ziervogel te sê
teen losbandige Stet moet lepellê

bitter smaal Smal smaller smal Spies
langs hulle staan later Stockenström in Grieks

Watermeyer kon sekel sny in die hoogste klas
maar verkies om die “volk” vir Volkskas op simbaal te pas

My oog val op die vergeter stapeltjie Hambidge…
so kom woon Eybers en my – die nouveau riche



No comments:

Post a Comment