Monday, 18 May 2020

[By Copernicus leen ek 'n slim slypglas] Jeanne Goosen

By Copernicus leen ek 'n slim slypglas
en loer by die luik van die hemel in
Kepler speel met sy spieëls
en baljaar tussen die mane van Uranus
En daar is die meester ook
met sy boskasie vol skoenlappers
Hy is besig
Hy brou 'n nuwe skepsel
'n ding—
iets tussen 'n komieklike insek
en 'n wollerige knaagdier
Uit papyrus kry dit twee vlerke
wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak
Hy brand ook sy voorletters daarop uit
Want dit is sý eiendom, sý maaksel
Maar wysig God altyd wys?
want kyk:
Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies
en met haakspelde
speld hy 'n voorskoot aan die lyf vas
God staan terug
peins
sê nadenkend vir sy engel:
Sy sal op kruie wei en 'n soet reuk versprei
en ek sal haar nie aarde toe stuur nie
maar 'n woning in die hemel gee
Voorts pluis God watte uit die wolk
weef 'n tweevertrek-kokon
en betig wind en weer
om hulle plek ten alle tye te ken
En dan druk God sy skepsel teen sy bors
lig die snaakse gesiggie na hom
en plaas sy mond op hare
God blaas
en die vlerke roer in die bries
Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë
want op aarde het my ma min gehad


—Jeanne Goosen


Sunday, 19 April 2020

Die oorwinning van die ietermagô Wilma Stockenström

Die oorwinning van die ietermagô
Wilma Stockenström


Goud die oorwinning van die ietermagô,
geboen tot blits en verweer, en gebal,
so rondomtalie geskub, die wilskrag
teen kwes en die lomp, kantelende val.

Sodat hy blydskap dans teen die dood,
die ietermagô, met snoetjie vooruit
gesteek en stert 'n roerlose sleep,
'n swaaiende verset teen tem en buit.

Sodat hy glinsterend 'n agterpootdans
wiegelend trap en die armpies rek
om die son te gryp in 'n vreugde
wat deur tot anderkant die jare strek.


Friday, 27 March 2020

die plek van opsluiting
Breyten Breytenbach


die plek van opsluiting
is 'n digtersparadys
(versigtig, versigtig nou
om dit nie te vergelyk
met die graf —
of praat die dooies juis
lê-lê-so met mekaar
uit holte na holte
van wat gelyk het na lewe?)

die plek van afsondering
is die digterspaleis
waar die ek die geskiedenis
van vlugte kan lek
en soos 'n paradysvoël
die vere een vir een
uit die vlerk kan trek
om kaal die stile
om jou te vou



Sunday, 1 March 2020

Hadida 2
Johan Myburg

       Bostrychia hagedash


Noudat jy taksonomies herbenoem is
kater jy nou in 'n ander stem?
Word jy anders getakseer noudat
jou naam sy stottering verloor het,
jy 'n poëtiese kwaliteit, 'n singende
metrum ingeboet het? Is jy 'n ander voël nou
of dek dit net my leksikon? Te oordeel
aan die pluim wat losgekom het op my grasperk
smokkel jy steeds met smaragde.
Dorsaal onder jou piouter vlerk glimmer
jou juwele nog soggens as jy neerstryk
op my erf of as jy teen vyf
in die middag weemoedig weerklink
in die buurt voordat dit donker word:
Hagedashia hagedash. Hadashia 
hagedash.


Wednesday, 5 February 2020

Die dans van die reën
Eugène N. Marais

    Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn


O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
      en haar oge is skaam;
            en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
            saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,
      hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
       en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
      en hulle kruip nader en sing saggies:
            "Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
      Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
            sy trap af van die hoogte;
      sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
            die asem van die wind raak weg.
            O, die dans van ons Suster!


Saturday, 1 February 2020

Reitzstraat, Potchefstroom
Johan Myburg

     TTC


Sommige somers, as jy jou blou Valiant pak
en see toe verkas met jou Anna en kroos,
het ek 'n oog oor jou tuin moes hou teen
verdroging, en ingeval: 'n Jong tuin is broos
as reën wegbly in Desember. Van oorkant die straat
het ek, toe nog 'n skolier, gesien hoe jy perke laat spit,
buitelyne beplan en beddings vul met struike: vir lower
vir blom vir geur; gesien hoe jy rankers voorlopig stut
met riet. Gaandeweg het ek patrone begin snap:
dat sipresse net in pare alleenheid oorleef; dat die pom-pom
van 'n blomperske net uit kaal takke kartetse kleur
kan skiet; dat die lente, benewens in die kweper, ook blom
in die dweperige pers van die yl tamarisk. In dié tuin
het ek begryp hoe vingers groen kan vroetel,
hoe oog en oor en neus die taal van tuin kan lees.
Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel
en algaande woord vir woord aan die groei gekry,
later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor
in kwatryne. Sedert swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van 'n rymende eindkoeplet.


Wednesday, 29 January 2020

george henry weideman
Thomas Deacon

       2 julie 1947 – 28 augustus 2008


waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het henry george weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy woorde rietjiesfluit
van botterblom en bossiesgras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
waar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
'n staning onder sterre
oopgetrap