Wednesday, 29 January 2020

george henry weideman
Thomas Deacon

       2 julie 1947 – 28 augustus 2008


waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring
het henry george weideman
van katstert en kanniedood
van kinkelbos en klipkersie gesing
tussen springbok en pofadder
tot by aggeneys, by onseepkans
en kenhardt verby
hoor ek sy woorde rietjiesfluit
van botterblom en bossiesgras
van bokbaaivyg en bloumelkbos
tot bitterbos
waar looplê se tyd
toe klapperbos en kankerbos
hul nagkarossies nadertrek
het george henry weideman
'n staning onder sterre
oopgetrap


Thursday, 2 January 2020

Vertoonkas
Johan Myburg


Sieraad van haar sitkamer was dié ligbruin
kas — terugskouend vermoed ek dit was fineer —
met geelkoperbeslag en twee panele glas
wat parallel in gleuwe heen en weer
kon skuif. Loop jy oor die bont tapyt begin
daarin 'n menagerie van porselein vibreer
op trillende vloerplanke; pronk 'n pou
pierewaaierend 'n ragfyn halfmaan veer;
skrik springbokkies en 'n haas van sjokolade
vir 'n maanhaar, 'n replika van 'n Landseer-
leeu dekades gestol in glas en wat nou onderlangs
begin te grom. Asof seismies gewek registreer
'n skoener, effe na agter, 'n teenwind in sy takel;
span onsigbare matrosies seile en laveer
die skippie terug oor ysige oseane; in die hande
van die klein kaptein sweerlik 'n narwalspeer.
Die seile sak tot halfmas, die pou vou sy trots
teleskopies terug, bokkies, haas én leeu kalmeer.
As natrilling ril ondervel, neffens rosies van marsepein, 
'n gevange eenhoring op 'n poskaart, gefrankeer,
maar nooit gestuur nie. In skemerte is ek jare gelede
in dié voorstedelike Wunderkammer ingesweer
as verkenner van negosie. Mettertyd sou ek
kuriositeite as versamel teen vergeet waardeer,
sjokolade marsepein glas papier porselein as
afstand van 'n verbeelde bestaan takseer.


Wednesday, 1 January 2020

Peinsende...
Pablo Neruda


Peinsende, terwyl ek skaduwees saamvleg in diepe eensaamheid.
Ook jy is ver weg, helaas, verder as wie ook al,
peinsende, terwyl jy voëls vrylaat, beelde laat verdwyn,
lampe begrawe.

Kloktoring van mis, hoe ver tog, daarbo!
Terwyl jy treursange versmoor, donker verwagtinge fyn maal,
swygsame meulenaar,
stort die nags blindelings op jou af, ver van die stad.

Jou teenwoordigheid is aan my vreemd, vir my sonderling soos 'n 
voorwerp.
Ek peins, terwyl ek 'n lang ent stap, oor my lewe voor jou.
My lewe voor enigiemand, my bitter lewe.
Die kreet voor die see, tussen die klippe,
soos jy vlug, vry, kranksinnig, in die newels van die see.
Toomloos, gewelddadig, uitgereik na die hemel.

Jy, vrou, wat was jy daar, watter speek, watter balein
van hierdie reusagtige waaier? Jy was ver soos nou.
Brand in die bos? Dit brand in blou kruise.
Dit brand, dit brand, dit vlam, dit vonk in die bome van lig.
Dit stort neer, dit knetter, brand. Brand.
En my siel dans gewond deur spaanders van vuur.
Wie roep? Watter stilte, bevolk deur watter eggo's?
Uur van heimwee, uur van vreugde, uur van eensaamheid,
uur wat myne was, onder al die ander!

Trompet deur wie die wind vaar singende.
So 'n passie vir trane vasgeknoop aan my liggaam.
Losgeskud van alle wortels,
aanval van al die golwe!
En my siel dwaal rond, droewig, eindeloos.
Peinsende, terwyl jy lampe begrawe in diep eensaamheid.
Wie is jy tog? Wie is jy?

Vertaal deur Uys Krige