Friday, 26 April 2019

Skoppensboer
Eugène N. Marais


I
'n Druppel gal is in die soetste wyn;
'n traan is op elk' vrolik' snaar,
in elke lag 'n sug van pyn,
in elke roos 'n dowwe blaar.
      Die een wat deur die nag
      ons pret beloer
      en laaste lag
      is Skoppensboer.

II
Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
      Net pagters ons
      van stof en dons
      om oor te voer
      aan Skoppensboer.

III
Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in 'n goue gloed:
die dagbreek op elk' sagte wang
en oge vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly;
      Want swart en droef,
      die hoogste troef
      oor ál wat roer,
      is Skoppensboer.

IV
L'Envoi
Gewis is alles net 'n grap!
Ons spell in die komedie mee
geblinddoek met 'n lamfer-lap
wat selfs die son 'n skadu gee.
      Wat treur ons nog?
Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
      Dus onverlee
      lag ons maar mee
      met elke toer
      van Skoppensboer!


Wednesday, 24 April 2019

windblom
Breyten Breytenbach


soms hou jy 'n hibiskus
in die kelk van jou gedagtes:
jy sit geelogig aan die rand
van hierdie land van aande
met die wind in die hande
'n fluistering van dooie ore komma

die see spoeg 'n sirkel om julle verblyf
so koud soos silwer:
bougainvillea beweeg met die passie 
van selfstandige skoonheid komma
'n akkedis skryf die grammatikaal van klipmure
en piesangbome is waaierdanseresse

in die donker bring die kriek die wind
geklont as klank in die huis komma
dieper verby 'n ander kus
waar die maan papierblaar vuur
maak in 'n kelk van sand
en die wind punt wind punt wind


Monday, 15 April 2019

Notre-Dame de Paris, 15 April 2019
Breyten Breytenbach


maar die groenspaanhaan
wat genael bo op die vingerwysing kon staan
om met 'n stil vergaan van koper
die verbydraai van eeue die hoof te bied

het na benede gestort 
deur die inferno van vlamme en roet
om op die werf tussen as en splinters
en gebarste juweelvonke nou gelouter


Wednesday, 3 April 2019

ek verbeel my
Marlise Joubert

          na die lees van "I imagine a poet" deur Adonis


ek verbeel my my ma waar sy
op die hawehoof by die see bly staan
soos 'n digter leun sy op haar wandelstok

ek herhinner my haar stem
is 'n stram klavier wat in haar keel
versplinter wanneer sy na my roep

ek verbeel my 'n ma
wat haar bloed soos 'n digter laat reën
sodat ander 'n vlag kan hys

waarom verkondig niemand haar naam nie —
vertel my wat ek nie kan sien nie
vertel my wie draai die tyd op sy rug
wat hou die wind vas as dit
op die punte van sy tone spin?

verkondig tog haar brandende wimpers
haar gebreekte hande haar laaste dae
sê of die lamplig stem of gedagte is
en hoe ek verder moet onderskei
tussen die insek en die blom

vertel my of daar 'n rede is vandag
om die hemel met wolke te graveer
sê my of die aarde weer uit
my jeug se alfabet sal herrys

sy tel reeds iedere mot wat verdrink
in die krematorium se vlammesee
sy groet die kinders se kerse snags
soekend na lig in 'n donker land

sy laat haar wandelstok agter

*

ek verbeel my ma nie meer nie
sy is afgelos uit tyd en dialoog
haar stem sonder melodie
haar keel sonder vuur haar lewe
is die stilte van as

in  my hand se palm hou ek
haar stilstand vas