Sunday, 29 October 2017

vyf horries van a. e. samuel (geb. krog)
Antjie Krog

       vir Johanna en Ulrich


2. visioen van 'n ondergrondse boom


die donker hoe-hoe om die huis
deur 'n kliewing in die plankvloer sak ek weg:
spinnerakke ritsel langs die fondamente
muwwe stofbelle ploert verby my ore soos ek sink
dampig die kastrolle aangebrande veldspaat
en die gneise dagsoom van vuil wasgoed tussen dolomiet.
verby die duf dampkring van steenkool sak ek
tot my vingers die takke raak
en dolwe en grawe
my oë silika knipper onder lagies politoer, blind,
net my vingers voel die muf, die molm,
die klewerige mukus van die afvrot van die saad

happig puil die son 'n skag
en ruk die aarde om ons oop:
'n vrou hurk in die modder
aan haar horribele borste
groei drie waterkopmolle.


No comments:

Post a Comment