Monday, 7 August 2017

Krappegesang
Fourie Botha


Ek besing my bloedbroer, die krap:
sy pootjies soos breipenne,
hy met die rooi hakskene,
die ogies tandestokkies met olywe.

Skeef-skeef kom hy oor die korrels
soos 'n rilling teen 'n ruggraat op,
die mandibels 'n gekoek
vol hengelaas en visstront.

Waarom bemin ek hom so,
wil ek sy harde karapaks poets,
die knypers vryf tot 'n vonk spat,
hom met 'n hamer oopbreek?

Hier in sy gat wil ek inkruip;
vir hom wil ek aan die bors voed;
hoor hoe hy sy dekplate vir my
laat kerm soos geroeste slotte.

Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie
in hierdie skedelpan van my kop?
Ek wil jou skud soos 'n blik spykers,
witvleise uit jou doppe skraap.


No comments:

Post a Comment