Tuesday, 29 August 2017

Reën in die Bosveld
D. J. Opperman


Lang maande lê die reënboog
in 'n miershoopgat gekrul,
blink en nat soos 'n voël se oog.

En winternagte as die steenuil fluit,
blaas 'n wit os op die rivier
dik mis teen riete en die walle uit.

Maar een middag bulk hy in die poort, swaai boos
sy horings oor die klowe,
en uit 'n miershoop vlieg die voël omhoog.




Monday, 28 August 2017

Vaalvalk
W. E. G. Louw


Wit is die wêreld
van outydse wee,
en 'n treurige wals
is die vroemôresee;
dou oor die duine, geen windjie wat waai,
net 'n vaalvalk wat sing soos hy draai, soos hy draai...


Friday, 18 August 2017

Waterstroom
Elizabeth C.M. du Toit


Waar die biesies groen om lae rotse bewe
en die blomme van die bleek geel waterplante
hul yle geure strooi; waar dit klam en goud is
in die buigende skadu's van die donker rante,

waar die ragfyn mos groei in die kilte,
groen, met silwer sade, oor die diep swart grond,
val rustig, oor die aarselende buiging van my voetboog
die gestippelde stingels van die waterplante rond.

In die water, met 'n stadige beweging, gly
'n dinker vis, rustig, stil, wat in die goue dieptes bly.


Tuesday, 15 August 2017

Droë Augustus
Corné Coetzee


Soms op 'n aand in droë Augustus
as die winter knersend hake inslaan
en soos ou gaspype in hoeke begin stink
as skaduwees van kaste teen die mure skuur
en huisgenote kug en slym en teem
as jy die deure sluit en omdraai
ná die toetrek van die hoë gordyn
kan jy ril vir die nabeeld van iets
wat bleek geroer het buite

as jy bedroë 'n ui vir die bredie kerf
en verbaas die bloed op die kapplank sien
kan jy 'n dun kreet herken
van een wat vergaan
wat stof geëet het
en tuur jy diepnag deur die ruite
of dit nou te laat is


Monday, 14 August 2017

tong-trilogie
Jolyn Phillips


     part 3

die biologie van my woord is 'n verbrokkelende fraktuur
hierdie is g'n woordbegrafnis nie hierdie gedig grawe
my woordeskatkiste op       daar waar hulle spook

in die stuyvesant-sitkamer war hulle dreig by
die siersteen-vensterbank wat elke Saterdag waarskuwings
van die dood los die see herinner my vel van my ekseem

my jolliejieks-
allergie verloën my
                            patattrapper-afkoms

ek praat al my tonge gelyk
Ma sê dis gevaarlik as mense
in tonge praat     niemand kan

'n prooi-tong vertaal nie slinks is die ekkes
in my besig om bakstene aan te dra
vir 'n nuwe babel


Sunday, 13 August 2017

tong-trilogie
Jolyn Phillips


     part 2

uit my liggaam wil 'n ander alfabet simfonie
ek is meer as net 'n vel-taal my liggaam ont-
taal die kronieke tong my tale is baie letters

wat uitmond my mond proe
na karring-tale ek is toegesluit
in die aswoensdag van my geboorte

ek weet my woord het 'n ander stam ander woorde
is vir my gevoer geleer ek belowe ek fluister my
woorde in die grond maar ek kan nie 'n sewejaartjie lospraat nie

die speldekussing-kompakter buig
hul koppe binnetoe wat wil jy
speldekussing-kompakter vir my sê?

my woorde wil somtyds die als op my lyf pak     my woorde wil soms kruie
brousel in 'n skottel ek wil voor dit buig
'n doek oor my kop gooi die kruie van die spelde-

kussingwoorde inasem
                        uitpraat
el moet vinger op die lip

my liggaam keer om te bid langs die speldekussing-
kompakter se stingels el wil hoor wat die heelal
elke dag vir die fynbos fluister


Saturday, 12 August 2017

tong-trilogie
Jolyn Phillips


     part 1

die storie van my woord begin toe ek vir die eerste keer
saam met Pa en sy familie Pêreberg toe gaan
die woorde proe sierangs nie vis nie

die dennehoutbome-dag onthou Pêreberg
toe my tong dennehoutbolle word
net op Pêreberg proe ek na dennepitte

as 'n kind het my geloof buitekant rondgeloop
tussen die bietoubos    woorde wil nie
psalmsgesange in die Anglikaanse kerk lof

ek fluister vir die speldekussing
as ek die woord in die are
van die adamsvy soek

ons besoek Pêreberg net vir begrafnisse
ons besoek die papsak-siek grafte sonder kruise
geeste het nie tonge maar ek verstaan hulle

in my gedagtes klim ek op 'n bakkie ek sit skaaphond
met my anties ooms die wind waai sand klap
houe teen my gesig

my niggies en nefies sit styf teen mekaar
hulle buig vooroor hulle hande skulp hul ore maar nie ek nie
ek wil later die wind oor-speel by die ghellieblik

ek kan nie genoeg kry van die wind se geskinner nie
ek het nog gevra is die see en die wind susterskinders?
my pa se mense lag my nog altyd tot 'n stilte


Wednesday, 9 August 2017

albei kante van die muskusdier
Jolyn Phillips


         i:

bevrugting van die muskusdier

weggeskout in jou skrok swaai die druipstert
uit die sweersakhals my tweehoringrige uterus-etter
jy wag gulsigaard vir 'n kersfees dik gepeusel aan
                         ons gametogeen
vandag sluit ek my bekkenpyn
my granaatwoorde sal ek toedraai met serpvel
ek los my bomdom vir jou onder the kersboom
ek verwag 'n nuwe naamstring:
                         ons sonnewendingsbeen



         ii:


voortbrengsel van die muskusdier

laat ons lewe ween laat dit oor ons waai
net een keer oor ons skyn saans oorspan tyd
die dier wat ons saam vuur ons begrawe ons
horingligkinders ons kinders kwets die weste
hulle holklinker die hoerlig wat neteldoek hang
die grafster vertoon ons uitspansel die ek deurtrek
vleeslik volledig drakerig die muskusdier
ons aand wag oopmond ons walms halm
willekeurig steeds stempel muskusdier skraal
op die bleek nag o            ons godspraak


Tuesday, 8 August 2017

Monstervers 29
Wilma Stockenström


Die kluisenaarskrap op my kriewelrige plam
speel monster-monster, skrik vir my skrik,
speel die dood in sy lewe van gespoel
en chaoties geruk en gerol word.

In ons maling onjuist- en -gerymdhede
soek ek 'n skulp oor die ore. Vorentoe
loer sal ek, knypers uitsteek sal ek,
my huis vervang namate my lyf

(waaraan ek skaam geheg is) groei en groei,
en ek, verleë krap, die sierlike vreeslike
wasdom in weggooiwonings gedruk moet kry,
kinkhoring, draaikolk, wulk en watsenaam,

beteuterd altyd aan myself verbonde
(die sleep van skulp, en van my sonde)
beteuterd gedurig monster móét speel
in dié woeling, dié draaiing, mý deel.


Monday, 7 August 2017

Krappegesang
Fourie Botha


Ek besing my bloedbroer, die krap:
sy pootjies soos breipenne,
hy met die rooi hakskene,
die ogies tandestokkies met olywe.

Skeef-skeef kom hy oor die korrels
soos 'n rilling teen 'n ruggraat op,
die mandibels 'n gekoek
vol hengelaas en visstront.

Waarom bemin ek hom so,
wil ek sy harde karapaks poets,
die knypers vryf tot 'n vonk spat,
hom met 'n hamer oopbreek?

Hier in sy gat wil ek inkruip;
vir hom wil ek aan die bors voed;
hoor hoe hy sy dekplate vir my
laat kerm soos geroeste slotte.

Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie
in hierdie skedelpan van my kop?
Ek wil jou skud soos 'n blik spykers,
witvleise uit jou doppe skraap.


Sunday, 6 August 2017

tongvis
Jolyn Phillips


ek is sardynstil
jou hande slim
jou slippe sjuut
op my lippe
jy prooi tussen my bene
jou ou visbene
ek hyg nog met die hoek
in my bek
jy kyk vir die gety
die see raak onstuimig
as jy     visvrou naby
Romansbaai se rotse kom
ek hoor jou lem skerp
ek hoor jou oor my meeu
jy vat my     jy vlek my
langdradig sny jy langs
my kiewe al langs my pens
daar lê my binnegoed stom
met die kaal hand trek jy my uit
en smyt my eenkant toe
vir aandete berei jy my voor
my kop kook jy in soutwater en uit
                              'n tongvis vir twee
                              die's vir die meel
                              die pan wat my braai wag
sodat die rou stadig uitbak
           stadig uit my uitbak