Tuesday, 29 November 2016

metamorfose van die dorpstommerik
Linda Roos


P-P-Prometheus hang gekruisig aan sy vingertoppe
met derms teen die rots geverf en oë van 'n lam

die klipswaar vloeke van die dorpenaars
wat so sekuur ou rowe tref
het hom oor die ravynrand eindelik gedwing, 
met dik en stamelende tong en hande
wat afwerend wuif aan die dun lem van 'n lys
tot rus laat ruk

nog uit die kring van kranse swiep
hul oog en tong met kloue uitgestrek
tot dié dag dat die wolke skeur
en elke bloedkol vere kry en vlerk
die dun geraamte van die kuit
groei tot geskubde poot
gesperde oog kry dubbellid
die swaar tong punt 'n adellike boog
en krys uit nuwe keel 'n nuwe naam
wat op sy voorkop
al die tyd geskrywe staan

toe vlieg hy op in die arms van die son

Monday, 28 November 2016

Uitsig op die kade
Elisabeth Eybers


Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.

Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.

Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.

Sunday, 27 November 2016

Met die onsekerheid
George H. Weideman


Dán word jy die troebel beeld
wat huiwer op die horison:
die dadelboom en leiblou dam
wat soms 'n vae koelte bring
en dan weer: groen en eg, maar vér, wyd —
ver oor die rante hang die damperige kring
van droom en dynserige werklikheid.

Henkries, Desember 1965

Saturday, 26 November 2016

Uit: mix tape
Bibi Slippers


1. Klou

                    Porcupine-ology. Antler-ology. Car-ology. Bus-ology. Train-ology. Plane-ology.
               Mama-ology. Papa-ology. You-ology. Me-ology. Love-ology. Kiss-ology. Stay-ology.
                    Please-ology. Let's study class, let's study class. Sit down. —Regina Spektor


ek wil my hande om
'n kaktus of turksvy
vou 'n anemoon in my
mond hou ek wil jou
ek wil jou

ek wil in 'n doringboom
slaap met 'n ystervark
in my arms ek wil leer
hoe om jou hoe om jou

ek wil 'n professor word
in die wetenschap van stekels
ek wil jou doringappel
doringpeer stadig maar
sever afstomp seekastaiing

stekelrog dennenbos
ek wil jou ek wil jou
bot hê en onskerp
armadillo-akkedis

meidoding lavanaald
as dit onmoontlik is
sal ek wil sag raak
myself spons maak

sodat ek aan jou
aan jou kan klou
sonder gevaar
van 'n steekwond
deur die long

Uit: Nou en dan

XIII Arachne se leegte
T. T Cloete


Die spinnekop weef haar helder dun ligdraad
oor die leegte en in teen die donker wind.
Sy heg haar vastrapplek déúr die hiaat
in ʼn wyskundige reëlmatige weefsel en sy bind
haar patroon óm die openinge wat sy laat.


Friday, 25 November 2016

Die mens is metafoor en meer
D. J. Opperman


Ek is traktaatjie
goedkoop preek
vir slordige predikant

exempel, emblemata
altyd verwysing na

die geval en Anderkant

ek is geelwortel
'n jaar lank
oorgeslaan op die land

metafoor
klaar gekoppel, die 'soos'
van die vergelyking
reeds met die bymekaarkom
in mekaar gegly

die ekstase tot kriptiek

alles wat jy raak
word beeld, simbool:
skroewedraaier, geld
word wisselkoers
die mirakel 
van Armstrong op die maan: mistiek

van 'n Goddelike Komiek.

Thursday, 24 November 2016

daar waar jy woon, is baie lig
Petra Müller


nie in die stilte
met middernag
of by laaste gelui
sal ek jou soek nie

swael wat in die hoë koepel swenk

maar net voordat dit stil word
in die keerweer van die klepels
en voordat die spinet gaan staan

fladderende hart in 'n woud van klip
jy ruis in die triforium
en jou liggaampie snoer 'n ewigheid
tot jy die sonstroom tref

daar waar jy woon, is baie lig