Wednesday, 5 February 2020

Die dans van die reën
Eugène N. Marais

    Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn


O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
      en haar oge is skaam;
            en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
            saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,
      hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
       en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
      en hulle kruip nader en sing saggies:
            "Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
      Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
            sy trap af van die hoogte;
      sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
            die asem van die wind raak weg.
            O, die dans van ons Suster!


Saturday, 1 February 2020

Reitzstraat, Potchefstroom
Johan Myburg

     TTC


Sommige somers, as jy jou blou Valiant pak
en see toe verkas met jou Anna en kroos,
het ek 'n oog oor jou tuin moes hou teen
verdroging, en ingeval: 'n Jong tuin is broos
as reën wegbly in Desember. Van oorkant die straat
het ek, toe nog 'n skolier, gesien hoe jy perke laat spit,
buitelyne beplan en beddings vul met struike: vir lower
vir blom vir geur; gesien hoe jy rankers voorlopig stut
met riet. Gaandeweg het ek patrone begin snap:
dat sipresse net in pare alleenheid oorleef; dat die pom-pom
van 'n blomperske net uit kaal takke kartetse kleur
kan skiet; dat die lente, benewens in die kweper, ook blom
in die dweperige pers van die yl tamarisk. In dié tuin
het ek begryp hoe vingers groen kan vroetel,
hoe oog en oor en neus die taal van tuin kan lees.
Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel
en algaande woord vir woord aan die groei gekry,
later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor
in kwatryne. Sedert swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van 'n rymende eindkoeplet.