Monday, 4 March 2019

"Waar Tebes in die stil woestyn"
Eugène N. Marais


Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef
En Mara in die sand verdwyn;

Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend' hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;

Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal,
En grootwild om die syferkuil
As skadu's in 'n stofwolf maal;

En huiswaarts brommend sluip die tier,
Sy donker moordplek pas verlaat,
Wanneer die eerste grou lumier
Met slepend' mis die veld beslaat.

O land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van u hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.

Sou ek een guns nog hier verdien,
— Nog een gebed omhoog verhoord —
Geen mensepraal sou ek wou sien,
Die glorie van geen vreemde oord.
My bede sou net dit verkry: —
Laat weer U eensaamheid my daar
Vir laas met roerend' mag berei
U groter stilte te aanvaar.

Laat uitlok deur geen suil of steen
'n Enkel sug of woord van haat;
Met al U vrede om my heen
Sal nagt'liks uit die hemelstraat
Sag neerskyn op my laaste huis
Die vonkelend' sterrebeeld van U kruis.

Elk' ydel vrees sal daar verdwyn;
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef.


Sunday, 3 March 2019

kringloop
Marlise Joubert


sy het nie aan 'n sluipende dood gedink
toe sy haar kinders grootgemaak het nie
die dood was ver soos sluiers reën

met soms 'n rammeling en spataarflits
agter die horison van 'n volgende eeu
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

want daar was telge om te voed
die vrede was groen, die huis 'n troos
die dood was ver soos sluiers reën

daar was 'n stoet van grootouers
daar was ma en pa, 'n oom en niggie
sy het nie aan die sluipende dood gedink nie

toe het almal in 'n marmerwolk
verdwyn, maar sy het reeds vermoed
die dood was ver soos sluiers reën

weerlig begin 'n langarmdans, rammel
net duskant haar huis en verlig haar vrees:
sy het nie aan 'n sluipende dood gedink nie

die dood was ver soos sluiers reën