Wednesday, 31 January 2018

moksha/vrywording
Angie Gallagher


die rammelende cumulus wat om my bene brom
is hoek-ore en skrewe-oë en snorbaarde, die wolkalbas
ook 'n lotus — my kat is 'n volslae boeddhis:

'n toegewyde hedonis wat krap om krap's omwil
domme graffito, dwase outeur; in die huisraad is
epitawe gegrif: erfstukke is mot en roet s'n

nog meer: 'n opperste opportunis — geen oppervlak
is heilig nie, my kat verpoos volstrek waar sy wil rus
om gesprei en mantelrig gedrapeer oor nirvana te mediteer


Wednesday, 3 January 2018

Laaste lied vir Orkenise
Erentia Bedeker


Sing vir my jy wat die son in jou keel dra
jy met die poorte en trompette
sing vir my as die nag knarsend onder jou voete breek
jy wat slagoffers lok met vernikkelde harte.
Sing vir my jy wat die uiteindes en
uiteindelikhede van man en vrou ken
sing van die swerwer wat sy hart op die stadsplein los
van die ploegman wat syne by die mark verpand.
Sing vir my as die hekke langsaam toegaan
en ek die maan se swart tjalie omhang
jou naam 'n sinnaberstreep op my huid.
Sing vir my sodat ek weer die vallei van kameeldorings kan vind
waar ape grafte grawe en waghou teen roofdiere
daar waar ek teen skemer jou stem
met die laaste skep grond kan
toegooi.


Tuesday, 2 January 2018

Hart van Orkenise
Erentia Bedeker

Na aanleiding van "Oneirocriticism" deur Guillaume Apollinaire, met apologie


Die kole van die nag was so naby
ek was bang vir brand.
Die wurgvy het die prieel berank, 'n
swanger maan aan sy tak gehaak.
Die witwanguil se keel het ontvlam en
die wêreld het gebloei soos 'n maartlelie.

Ek was onkundig oor die uiteindes
van 'n man, uiteindes
van 'n vrou, uiteindelikhede
en uiterstes van ledemate
agter die fantoompyne
van begeerte.

Gedagteloos onder 'n afdak
sluk ek die geelbruin kuddes
van die najaar en vryf
jou hersenskim
uit my oë.

Orkenise verskyn op die einder.
Gestaag galop ons die stad tegemoet —
die gedruis in die poorte, die vlag
die trompet in die toring —
traag om die vallei waar kameeldorings
fluit, te verlaat.

Maar die lied van die saailande was manjifiek.