Friday, 27 January 2017

Verborge-één
Totius


Die sprokie is aan my vertel:
wanneer die druiwetros weer swel
onder die donker wingerdblad,
dat dan die fyne wyn ook roer
in ver verborge keldervat.

'n Fyn mistieke eenheidsband
verbind Oranje, Nederland
en Afrika, deur alles heen.
Hoe ver die golwe ons al omspoel,
die diepe hart sal altyd voel —
ons is verborge-een.

Tuesday, 24 January 2017

Die laaisel van die sonbesie
George Weideman


O gomgomgai! loep die voël wat die bont eiels lê
Sonbesie, wat het jy vil my te sê?

Sonop leeds het jy jou vlymfluit
in die vaalgloen melkbos opgehang
Jou klank het klag man — my ole tuit
Na wie is dit wat jy velang?

O ek sien, jy's die son se stlaal
soms in bos of boompie vasgevang

Sonbesie, wat stolie jy vil my?
Êtse man, hou op met sklee!

Ek hensop maal, laat staan nog stly
— God het jou 'n sekelstem gegee!

Monday, 23 January 2017

Elegie
Wilhelm Knobel

Vir V. Cuenod


Êrens in die Atlantiese oseaan is jou liggaam ter see gelaat
In geen benouende seil gewikkel nie
het dit stadig deur die skemergroen lig gesak
tussen kleurige tropiese vissies wat vir 'n oomblik
      verskrik is
om dan weer soos mossies nuuskierig byeen te drom
en die vreemde gebeure gretig maar geheim in die
      roering te bespreek
'n besorgde dolfyn
het jou 'n rukkie meer waardig op jou tog vergesel
jou ledemate wat net effens
in suggestie van 'n dans beweeg
het hom 'n tydjie laat vermoed dat jy leef
en jou hare wat jy kort geknip gedra het in jou lewe
het lank en donker in die stroom geroer
Êrens op jou reis die diepte in
waar die skemerte oorgaan in donker
het die vae gestalte van 'n haai
(of twee?)
geduldig, genadig
gewag
...die beelde hier word minder duidelik
maar in drome sien ek reeds hoe 'n hopie bene
ewig en wit begin vasgroei in koraal

Sunday, 22 January 2017

Draaikewers
D. J. Opperman


Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en soet betowering

van ek en jy, van ek en jy?
Dit kring om jou, dit kring om my

voortvlugtend in 'n fyn aanvoel
van wisselende drif en doel.

O ek en jy! O ek en...skielik
uit mekaar verskrik...

O waar is jy? O waar is jy?
Dit kring om jou, dit kring om my,

met kring en teenkring mettertyd
tot 'n verwikkelde onenigheid.

O sal dit ooit 'n einde kry:
Die kring om jou, die kring om my

oor wye vlakke van die tyd
in malende eentonigheid?

Met duld en ongeduld en óm en óm
sal daar 'n rus ooit uit die onrus kom?

Hoe lank bly ons in hierdie kring
se dol en brak verbittering

van ek en jy, van ek...skielik
uit mekaar verskrik...

O waar is jy? O waar is jy?
Dit kring om jou, dit kring om my,

en kringend gaan om jou en my
die tyd verby, die tyd verby.