Sunday, 27 October 2024

Klag van die sterre
Lucas Malan

Challenger: "They slipped the surly
bounds of earth to touch the face of God."


Nou hang ons ontluister, die sterre
en dowwer planete bloot klewende reste
verklaar van ontploffings gasbondels
en kolkende stowwe. Net hutspotte niks,
as jy mooi daarna luister.

                                            Oogappels wit
was ons mane voormalig gepaar en geklonter
in ritmiese bane gewieg in balans: al so,
al so, die koue kalkoentjies wat wals
in die wind en voorjaarse reën laat beskik
uit die blakende dans; ons is nat en blink
van die ster-wees en skitter ons glans.

Maar nou is ons tiensyfertalle ten dele geblus
en wiskundig verkil tot simbole wat wemel
in kosmiese bane; die geel astervelde word dorre
savannes waar die steenbok en ram van die mite
ontdaan moet kom lek aan die as van die hemel —

                                            En hy daar so regop,
die een sonder vlerke met die ewige neiging
tot opwaartse kyk en verkenning van sterre —
die mens met sy brein, algoritmiese denke en taal —
wat vreet hy tog so aan ons grense, wat wíl hy
hier buite waar alles bolvormig tol en bestaan;
en hoe wéér hy die nag sonder sterre?


____________________________________________


Wednesday, 3 June 2020

Die bome my vaders en moeders Wilma Stockenström

Die bome my vaders en moeders
Wilma Stockenström


       Die bome, my vaders en moeders,
se lang gespierde arms,
se groot groen rokke,
se kinders by dosyne,
se optog van bloeisels in die parke en langs die strate,
       my vaders en my moeders, die bome,
ek slaan my arms om julle,
druk julle blare teen my wang
en vou jul geur soos 'n doek om my hare.
Bly goed wees vir my.


Wednesday, 20 May 2020

Vrug van klip Wilma Stockenström

Vrug van klip
Wilma Stockenström


Vrug van klip in my dra ek wanhoop,
vrug wat groei tot haat. Hard en wit
soos gips en doods in my die vertwyfeling
en die verkalking van verbittering na ontsegging.
Botsels van weerstand bring die lente my
waar ek boom in verspoelde grond staan.
Gehard sou wees: die pers krale van stamvrugte
dra en blinkblaar in die kloof se son
te dans tussen my vriende die rotse, heerlik
heidens sku en wrangsoet. Erbarmloos
staan my takwerk teen die kaal van verlatenheid,
oortrek met klipvrugte, drag van my haat wat my
buig af na die klippe, my gevalde vrugte.


Tuesday, 19 May 2020

Bibberende Piet Jeanne Goosen

Bibberende Piet
Jeanne Goosen


Here
U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet — omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir 'n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir U poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra 'n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou
Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog 'n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan: Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dáár toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie 'n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?

Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik — en ook U soort apartheid


Monday, 18 May 2020

[By Copernicus leen ek 'n slim slypglas] Jeanne Goosen

By Copernicus leen ek 'n slim slypglas
en loer by die luik van die hemel in
Kepler speel met sy spieëls
en baljaar tussen die mane van Uranus
En daar is die meester ook
met sy boskasie vol skoenlappers
Hy is besig
Hy brou 'n nuwe skepsel
'n ding—
iets tussen 'n komieklike insek
en 'n wollerige knaagdier
Uit papyrus kry dit twee vlerke
wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak
Hy brand ook sy voorletters daarop uit
Want dit is sý eiendom, sý maaksel
Maar wysig God altyd wys?
want kyk:
Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies
en met haakspelde
speld hy 'n voorskoot aan die lyf vas
God staan terug
peins
sê nadenkend vir sy engel:
Sy sal op kruie wei en 'n soet reuk versprei
en ek sal haar nie aarde toe stuur nie
maar 'n woning in die hemel gee
Voorts pluis God watte uit die wolk
weef 'n tweevertrek-kokon
en betig wind en weer
om hulle plek ten alle tye te ken
En dan druk God sy skepsel teen sy bors
lig die snaakse gesiggie na hom
en plaas sy mond op hare
God blaas
en die vlerke roer in die bries
Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë
want op aarde het my ma min gehad


—Jeanne Goosen


Sunday, 19 April 2020

Die oorwinning van die ietermagô Wilma Stockenström

Die oorwinning van die ietermagô
Wilma Stockenström


Goud die oorwinning van die ietermagô,
geboen tot blits en verweer, en gebal,
so rondomtalie geskub, die wilskrag
teen kwes en die lomp, kantelende val.

Sodat hy blydskap dans teen die dood,
die ietermagô, met snoetjie vooruit
gesteek en stert 'n roerlose sleep,
'n swaaiende verset teen tem en buit.

Sodat hy glinsterend 'n agterpootdans
wiegelend trap en die armpies rek
om die son te gryp in 'n vreugde
wat deur tot anderkant die jare strek.


Friday, 27 March 2020

die plek van opsluiting
Breyten Breytenbach


die plek van opsluiting
is 'n digtersparadys
(versigtig, versigtig nou
om dit nie te vergelyk
met die graf —
of praat die dooies juis
lê-lê-so met mekaar
uit holte na holte
van wat gelyk het na lewe?)

die plek van afsondering
is die digterspaleis
waar die ek die geskiedenis
van vlugte kan lek
en soos 'n paradysvoël
die vere een vir een
uit die vlerk kan trek
om kaal die stile
om jou te vou