Wednesday, 20 May 2020

Vrug van klip Wilma Stockenström

Vrug van klip
Wilma Stockenström


Vrug van klip in my dra ek wanhoop,
vrug wat groei tot haat. Hard en wit
soos gips en doods in my die vertwyfeling
en die verkalking van verbittering na ontsegging.
Botsels van weerstand bring die lente my
waar ek boom in verspoelde grond staan.
Gehard sou wees: die pers krale van stamvrugte
dra en blinkblaar in die kloof se son
te dans tussen my vriende die rotse, heerlik
heidens sku en wrangsoet. Erbarmloos
staan my takwerk teen die kaal van verlatenheid,
oortrek met klipvrugte, drag van my haat wat my
buig af na die klippe, my gevalde vrugte.


Tuesday, 19 May 2020

Bibberende Piet Jeanne Goosen

Bibberende Piet
Jeanne Goosen


Here
U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet — omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir 'n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir U poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra 'n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou
Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog 'n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan: Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dáár toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie 'n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?

Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik — en ook U soort apartheid


Monday, 18 May 2020

[By Copernicus leen ek 'n slim slypglas] Jeanne Goosen

By Copernicus leen ek 'n slim slypglas
en loer by die luik van die hemel in
Kepler speel met sy spieëls
en baljaar tussen die mane van Uranus
En daar is die meester ook
met sy boskasie vol skoenlappers
Hy is besig
Hy brou 'n nuwe skepsel
'n ding—
iets tussen 'n komieklike insek
en 'n wollerige knaagdier
Uit papyrus kry dit twee vlerke
wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak
Hy brand ook sy voorletters daarop uit
Want dit is sý eiendom, sý maaksel
Maar wysig God altyd wys?
want kyk:
Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies
en met haakspelde
speld hy 'n voorskoot aan die lyf vas
God staan terug
peins
sê nadenkend vir sy engel:
Sy sal op kruie wei en 'n soet reuk versprei
en ek sal haar nie aarde toe stuur nie
maar 'n woning in die hemel gee
Voorts pluis God watte uit die wolk
weef 'n tweevertrek-kokon
en betig wind en weer
om hulle plek ten alle tye te ken
En dan druk God sy skepsel teen sy bors
lig die snaakse gesiggie na hom
en plaas sy mond op hare
God blaas
en die vlerke roer in die bries
Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë
want op aarde het my ma min gehad


—Jeanne Goosen