Sunday, 24 February 2019

Exit Octopus vulgaris
Marlene van Niekerk


Die digter, oorgevoelige wese, kan gerus 'n voorbeeld neem
aan wat die seekat moet versin deur haar gebrek aan skulp:
verdeel die hart betyds in drie, die brein in nege dele,
splyt die voet in twee kwatryne, vir Worcester vier,
die origes vir Wellington, tatoeëer die kripsiskunde
in al die lae van die vel, skurf soos klippe in die Pakhuisberg,
glad soos Stilbaaiwier, ossileer soms as korbeelhuis
uit die rococo in pruimepienk koraal, bluf jou smart 
met stekelsteunpilare uit 'n middelgoties katedraal,
maak die aardkloot tot jou oester, jou bedstee
uit 'n kokosneut, berei in nood jou ligspigot
teen die inval van die Kaapse aal, die naywerige
snotglad rob, hersien die pomp, vul die swart foedraal,
trek die binneborstrok haaks, mik jou gulste waterstraal,
en vuur — psiempsoem! — 'n heksepluim van drukkersink,
vlug kop eerste in die wolke der onwetenheid,
al jou sinne in een kraal.


Tuesday, 19 February 2019

Aan 'n verdrinkte
Petra Müller


Ek sal jou in my bly behou, verby verdriet,
verby berou, tot in die nag se winterblou verduistering;
die poel waarin die visse spring, is webbe van herinnering
waarin ek nette vir jou bring. Met elke oggend se gety
spoel jy opnuut by my verby, en bly jy deur my vingers gly,
en tog sal ek jou bly behou solank die see
my in sy branding hou. Dié see,
wat daagliks uitwis wat die nag wou skryf, sal jou
in vlugpatrone opdryf op die kus waar ek, 'n kind
wat stadig aanleer om te spel,
jou uit die veegseltjies herstel.
Daar lê 'n leeftyd voor
om klaar te plet aan hierdie
oggend-alfabet.