Friday, 21 July 2017

Ringdans van die hamerkoppe
D. J Opperman


Alleen onder die kameeldoringboom
waar ek elke dag minder
oor gisters en môres sit en droom,

maar soms nog mompel aan gebede
oor kinders en kleinkinders
versprei in die witman se stede,

vlieg 'n hamerkop, roepvoël van die dood,
óm die boom, óm die boom
en kom wei voor my in die watersloot.

Hy pluk met gesnitter en gesnater
paddas en vissies
witterig los uit die water;

haal, as die beeste eenkant wei,
uit die stil onderstrome
voorvaderlike geeste vir my.

Soms sak hy en 'n paar van sy maters
teen sonsondergang
tot 'n klein dodedans in die waters,

roer en roer dit saam met 'n trippel en trap
van latdun pote
en vlerke wat litterig bewe en klap

dat die wolke en bome skud en verwring
en die kringelende waters
met beelde verward in my kop nakring,

tot alles versink in die trap,
trap van die tyd
en nagte se aaklige vlerkgeklap,

en ek duiselig weet wanneer ek opstaan:
met 'n bruin hamerkop op my stroois
en die wit waterkring om die maan,

sal vannag weer een van my ander selwe
in die klein ringdans van die tyd
die vlaktes en stede afsterwe.


Thursday, 20 July 2017

terug van die af naweek
Jolyn Phillips


ek het eiertand uit Grootkop
se skoot getik-tik-tik
tot ek haarlyn kraak
ek het skip daar aangekom
en nou sit ek vas     palmietbossies
aan die rotse van die Baviaan

daai meisiekind Genadendal
sy't nog altyd haar voortrekker-
kappie en elke-land-romp aan
oud-Morawies gekerk vir Rolihlahla
Mandela geoogwink toe hy
ná die 1994-verkiesing vir haar
kom kuier sy't hom verlei sy's ook vry

ek sien jou Overberg uitgetof
in 'n groen fluweelbaadjie
ek hou die bloukraanvoël dop
wat teen elektriek drade skok
'n noot op 'n staaf

partykeer as ek van die af naweek
terug Grootkop toe misgis ek
die sebra vir 'n kwagga
misgis ek die bloukraanvoël
vir 'n galjoenblom langs die kus
ek is gedoop in die Kamma Kan Kamma-
rivier as 'n inkvis met rooibosbloed
Polla se doopsrokkie
waterblom sonder stingel
in my rond


Tuesday, 18 July 2017

Digter wordende
Antjie Krog


om op 'n oggend wakker te word binne-in klank
met vokaal en klinker en diftong as voelspriet
om met aarselende sorg die effensste roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer

om jouself meteens gekniel te vind
bo-oor die hoorbaar kloppende wand
van 'n woord — soekend na daardie presiese
moment wat 'n versreël volloop in klank

wanneer die betekenis van 'n woord swig,
begin gly en hom uiteindelik oorgee aan geluid
van dan af smag die bloed na die inkantasie
van taal — die enigste waarheid staan gevél in klank

die digter dig met haar tong
sy haal asem — ja, diep uit haar oor


Monday, 17 July 2017

"Christ of the burnt men"
 Sheila Cussons
          
         (Thomas Merton) 


Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en voet en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van 'n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van 'n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was —
— O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinningheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met 'n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: grýp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.